Saterdag, November 17, 2012

Periandros van Korinthe


Ek kom uit die laaste geslag wie se verbeelding gevorm is - nie deur boeke, nie deur flieks of televisie of die internet nie - maar deur die radio. Vir my het alles begin met die Afrikaanse diens se radioteater van jare terug. Die Rebellie van Lafras Verwey, Pendoring Eiendoms Beperk, Ontmoeting by Dwaaldrif en baie ander.

Periandros van Korinthe was 'n drama, en soos meeste Afrikaanse dramas is dit vir die radio verwerk. Dit was my ouer suster se voorgeskrewe boek op skool en die aand toe dit op die radio kom moes ons almal klaarmaak en stilbly of opsystaan. Ek was nog 'n tjokkertjie maar was nuuskierig oor waaroor al die fuss was.

"Jy kan bly Gert maar jy moet TJOEPSTIL sit", het sy gesê.

Nou ja, daar het ek tjoepstil gesit en gewag, asof ek ingelaat gaan word in een van die groot geheimenisse van die wereld.

En in 'n sekere opsig WAS ek daardie aand ingelei in 'n lewenslange verwondering.

Klein Gert kon weinig sin maak van die politieke intrige in Periandros se koningkryk. Basies, sover ek kon verstaan het al sy pogings om sy koningkrykie te verbeter en te "suiwer" net gelei tot vervreemding van al sy vriende en familie. Soos die Hollies se song King-Midas-In-Reverse.

Hy bied uiteindelik aan om te abdikeer en sy koningkryk vir sy vervreemde, verbande seun Lukophroon te gee en in ruil daarvoor Lukophroon se kleiner koningkrykie (Corcyra) oor te neem. Maar die Corcyraane vermoor Lukophroon om te keer dat dit ooit kan gebeur.

Wat regtig my verbeelding gegryp het, was die grand finale - 'n laaste moord wat Periandros sorgvuldig beplan.

Hy vra die weermag kaptein

ja, ek het nogal baie vyande in die gewes,
daarom, stuur drie sluipmoordenaars, en los van hulle, later ses

vir die eerste moordenaars sê hy

daar is iemand in Korinthe wat my pla, 
'n mens wat ek glad nie meer kan verdra

en verduidelik waar hulle hom moet voorlê - 'n ou man wat sal loop met 'n fakkel langs die see om middernag - en waar om hom te begrawe.

Vir die volgende ses moordenaars verduidelik hy waar om die eerste drie moordenaars voor te lê, oppad terug van hulle moord, hoe om hulle te vermoor en die sein om te gee wanneer die daad gedoen is: lui die visklok.

En dan roep hy die kaptein terug.

Vannag, wanneer die visklok lui, 
moet jy vyftien blitssoldate dadelik bedui
om met die bergpad aan te jaag totdat hulle miskien 
die ses sluipmoordenaars by die bergknoetsie sien
slaan dood die kraaie wat hul geld ontvang vir moor
begrawe hulle langs die pad en laat geen spoor.

Dan, wanneer hy alleen is trek Periandros sy mantel aan

Want so 'n nag is koud
veral as jy moet buite loop en jy word oud.

Hy steek 'n fakkel aan

Toe nou liggie, jy moet brand
'n ou man nog 'n entjie oor 'n groot en donker land
lei na die see... die see wat ewig en sonder rus
sal breek en breek en reinig aan die klipperige kus.

7 opmerkings :

  1. Is dit net ek, of is dit onmoontlik om hierdie boek in die hande te kry? Is dit uit druk uit?

    AntwoordVee uit
  2. Ons het dit hierdie jaar as 'n voorgeskrewe boek vir graad 11 gekry, maar die boeke is almal nog die boeke wat leerdrs van die 60's gebruik het, so ek dink nie dit word nog gedruk nie

    AntwoordVee uit
  3. Die boek word nog gedruk, ek was 4 jaar terug in grad 11 en ons het splinternuwe boeke ontvang.

    AntwoordVee uit
  4. My suster het dit ook gehad as voorgeskrewe boek, 3 jaar ouer as ek, maar ongelukkig het ek nie die voorreg gehad om dit ook te kry/lees as voorgeskrewe boek nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hi Nikita, baie dankie vir jou mooi woorde en belangstelling. Ek waardeer dit.

      Vee uit
  5. Eerste keer dat ek enigiets uit die groot Periandros van Korinthe lees. Nou kan ek sien watter groot letterkunde dit is. Briljant! Jy het ʼn onverwagse deur vir my oopgemaak, Gert.

    AntwoordVee uit