Vrydag, Oktober 26, 2012

In the Realms of the Unreal

Een van net 3 fotos van Darger wat bestaan.
Aan die begin van die 20ste eeu, in Chicago, het 'n baie arm pa sy seun in 'n Katolike huis vir seuns laat opneem nadat dit vir hom onmoontlik geword het om die kind verder te versorg.

Die seuntjie se naam was Henry Darger. 

Hy het nooit sy ma of suster geken nie. Sy pa het hom een of twee keer besoek en toe nooit weer nie. Die jong Darger was nie "normaal" nie en is oorgeplaas na 'n plaas vir "feeble minded children" in Lincoln.

Hier het hy grootgeword, geboelie, bitter ongelukkig en met 'n ewige hoop dat sy pa eendag sal opdaag om hom te kom haal.

Op ouderdom 16 het nuus gekom dat sy pa gesterf het in 'n poorhouse in Chicago. Darger het ontsnap van die plaas af (na baie probeerslae) en die 200km na Chicago per voet gestap met die hoop dat hy wel sy pa gaan vind. 

In Chicago het hy werk gekry as 'n janitor en skottelgoed wasser in verskeie Katolieke Hospitale vir die volgende 60 jaar, die res van sy lewe.

Hy het geen vriende gehad en nooit met mense gepraat nie.

Kort voor sy dood is hy opgeneem in presies dieselfde poorhouse waarin sy pa 60 jaar tevore gesterf het, en daar is hy oorlede in 1973.

Darger het sy besittings gelos in die klein kamertjie in Webster St wat hy vir 40 jaar gehuur het. Daar het sy landlords, met die ontruiming daarvan, 'n enorme 15,000 bladsy manuskrip ontdek wat Darger deur die loop van sy lang lewe geskryf het.

Die manuskrip se naam was In the Realms of the Unreal

Dis 'n bisarre storie van 'n planeet wat om die aarde wentel, waar kinders slawe is en 'n groep meisie prinsesse (die Vivian Girls) veg vir hulle bevryding. Dis 'n wereld van uiterste fantasie, vol kreature, monsters en oorlog, maar ook uiterste naiwiteit.

Saam met die boek is 200 reuse, muur grootte skilderye ontdek wat dit illustreer. Darger het al sy geld gebruik om waspapier te koop (in groot maat), dit teen die muur te plak en tonele uit sy storie te verf.

Daarna het hy die papier omgedraai en die volgende skildery aan die agterkant geverf.

Hy het geen kennis van kuns gehad en nooit enige skildery vir enige mens gewys nie.

En tog, baie vinnig na sy dood het hierdie skilderye bakens van Amerikaanse "outsider art" geword, dit hang vandag in al die hoogste gallerye- insluitende die Museum of Modern Art en verkoop in die $100,000 klas.





Henry Darger Room, Musee de l'Art Brut, Lausanne

Darger by die Andrew Edlin Gallery, New York

Darger se kamer, met sy dood in 1973.

Vandag word al daai jare van stilte in detail ondersoek, maar daar is meer raaisels as antwoorde - net 3 fotos bestaan wat wys dat hy ooit gelewe het.

Darger het geen vriend of familie gehad nie: hy het verskeie aansoeke gedoen om 'n kind aan te neem, maar is elke keer afgekeer. Hy is begrawe in 'n plot vir arm mense en gevra dat sy kopsteen lees "Artist and protector of children".



2 opmerkings :