Sondag, Oktober 14, 2012

Ohm Krüger

Aan die begin van WW2 het Hitler hoop uitgehou dat hy 'n ooreenskoms met Engeland sou kon bereik, soortgelyk aan sy ooreenkoms met die Soviet Unie wat die inval in Pole moontlik gemaak het. Dit het nooit gebeur nie, en uiteindelik het beplanning begin vir die Britse inval - Operation Sea Lion.

Een aspek daarvan was die vervaardiging van 'n fliek - Ohm Kruger - wat propaganda vir 'n oorlog met Engeland gemaak het. Ohm Kruger was baie na aan Goebbels se hart. Dit was die grootste en duurste fliek van die Nazi era: moes terselfdertyd anti-Britse sentiment aanhits, maar ook wys waartoe Duitsland instaat gebly het tydens oorlog tyd.

Ohm Kruger het ge-premiere oral deur Duitsland in April 1941, 3 weke voordat Orson Welles "Ciziten Kane" in New York sou premiere. Dit was 'n reuse sukses.

Ons Afrikaner voorsate was grootliks pro-Hitler in die 30s, en die Nazis was duidelik net so begeesterd met hulle.

Drie jaar later, toe dinge desperaat vir Duitsland gelyk het, is al die oorblywende mans en seuns vinnig georganiseer in die Volkstorm - 'n uniformlose, massa burgers sonder vormele opleiding of wapens, wat gebaseer is op die Boere van die boere-oorlog. Dis hierdie arme sotte wat die Soviet en ge-allieerde magte moes inwag toe hulle oor Duitsland se grense stort (met dieselfde sukses as die burgers wat Lord Roberts se stoomroller na Pretoria ingewag het).

Om die Volkstorm te wys hoe dit gedoen word het Goebbels Ohm Kruger vir 'n tweede keer deur Duitsland vrygestel.

Ek het nog altyd gewonder oor hierdie fliek en besluit om dit hierdie naweek te download en te ontsyfer.

My eerste indruk is van 'n toonvenster: 'n, duur, onhaastige fliek is wat geen teken toon van 'n land in die middel van 'n wereldoorlog nie. Die "produksiewaardes", soos hulle in Hollywood sê, is spare-no-expense met goeie akteurs, stelle en draaiboek.

Dit begin met 'n horde joernaliste wat met die blinde Paul Kruger wil praat op die dag van die Vrede van Vereeniging, in sy hotel in Switzerland. Hy stuur almal weg, maar begin dan vir sy verpleegster te vertel.

Die mees indrukwekkende blywende aspekte daarvan is die treatment van die Britse Royal Family aan die begin en die konsentrasie kampe aan die einde.

Vir eenkeer is daar iemand wat die geld en ervaring en balls en spite het om die Royal Family te stage in 'n realistiese wyse, net om hulle af aarde toe te bring.

Daar is 'n pragtige cross-fade van Lobengula se kraal in die Transvaal na Winsor Paleis in London.

(Lobengula vra vir Paul Kruger "do you know white-mother?" ('n portret van Queen Victoria wat Britse dominees vir hom gegee het). Paul Kruger sê droogweg "white mother writes me a letter every week".)

Koningin Victoria is 'n groot voorstander van die "noble Boers" totdat Neville Chaimberlain vir haar verduidelik dat die wereld se grootste goud-fonds daar ontdek is. Sy dink mooi daaroor en sê

Well, it's only the English that can suffer wealth without becoming Godless

(Haar kleinseun, die Duitse Kaiser, verskyn nooit nie. Die fliek wys sy skandalige weiering om 'n onderhoud aan Paul Kruger toe te staan, aan die einde.)

Ek hoef nie te sê aan wie se kant die fliek se sentiment val nie - dit is ontsettend eensydig, maar tog verskil die historiese gegewe in essens min van die onlangse BBC dokumentere reeks oor Cecil John Rhodes. Ek dink ons almal weet nou min of meer dat goud iets daarmee te doen gehad het.

Dit ruk die hol uit die hoender uit op plekke - Piet Cronje moet oorgee omdat die Britte hom omsingel en Afrikaner vrouens gebruik as menslike skilde.

Al die Britse villians is daar, praat Duits maar lyk nogal the part - Kitchener, 'n suave Cecil Rhodes, Dr Jameson.

Daar is 'n pragtige oomblik van afskeid tussen Paul Kruger en sy vrou Sanna. Dis 'n finale afskeid, hulle altwee weet dit, sy sê dankie vir hulle lewe saam, en ons siele bly by mekaar.

Die plot is gebou rondom Paul Kruger se verhouding met sy pro-Britse pasifis seun Jan, wat handomkeer nadat sy vrou amper verkrag word, en een van die Boere helde word.

Die einde is in die Boere konsentrasiekampe, met 'n sekwens waarin Jan gevang en gehang word wat my hoendervleis gee. Die Britte forseer sy vrou om daarna te kyk, en sy stem trots in - ek sal in jou oe bly kyk tot die laaste oomblik, Jan.

[Die konsentrasiekamp deel het 'n verbasende ooreenkoms met die Soviet fliek The Battleship Potemkin: ook 'n dokter wat in die middel van 'n opstand oor vrot kos is; soldate wat skiet in 'n vroue skare en 'n fatale stampede veroorsaak]

En tog, met dit alles: op daardie selfde oomblik was die Duitsers besig om hulle eie konsentrasie kampe op ongekende skaal te bou?!

Ek wonder wat die miljoene Duitsers wat Ohm Kruger gaan kyk het, daarvan gemaak het?

'n Ohm Krüger promosie poskaart, met die Boere konsentrasiekamp

1 opmerking :

  1. Dankie vir die artikel, ek het baie daarvan gehou om dit te lees. Ek het self 'n jaar of so terug die fliek ondek, dadelik gedownload en natuurlik gekyk.
    Een ding wat vir my duidelik geword het in die fliek is dat Duitsers of geen idee gehad het hoe Christelik Paul Kruger en die Boere van daardie tyd was nie, of hulle het dit in die fliek eenvoudig ignoreer. Daar word selfs direkte lastering teen die Heilige Gees in Paul Kruger se mond gesit, dit was vir my baie vreemd en onnodig, Paul Kruger sou nooit so iets sê nie. Ek kan nie die presiese woorde onthou nie maar ek dink dit was in die 2de scene met die boer en sy vrou wat hulle grond aan die Engelse wou verkoop.
    Ek dink dit was in werklikheid die groot verskil tussen Boer en Nazi. Christelikheid.

    AntwoordVee uit