Saterdag, Augustus 30, 2008

Die Kardinaal se Verhaal

Baie jare gelede was daar ‘n man en vrou wat vir jare gesukkel het om ‘n babatjie te kry. Hulle het – op hul dokter se advies – van mekaar geskei vir twee jaar terwyl die vrou in ‘n spa herstel het – en daarna weer probeer.

Hierdie keer was hulle suksesvol – die vrou het swanger geword.

Een aand maak die man ‘n afspraak met sy vrou om ‘n ernstige saak met haar te bespreek.

Elke dag van die twee jaar wat verby is, sê hy, het hy gebid en God belowe dat, sou hy ‘n kind kry, hy die kind se lewe aan God sou wy: sy kind sou ‘n Priester word.

Sy vrou se antwoord is dat sy ook vir twee jaar lank gebid het – nie aan God nie, maar aan haar ongebore kind – en hom elke nag belowe het dat sy hom die lewe sou spaar wat sy gedoem was om te lei. Haar kind sou ‘n kunstenaar word en ‘n lewe van vryheid en selfverwesenliking hê.

En belangrikste van alles - dat hy nooit sy voet in ‘n kerk hoef te sit nie.

Die man was ontsettend ontsteld – hy het met sy priester geraadpleeg, wat hom laat verstaan het dat alles waarskynlik emosie en hormone is, en dat sy vrou tot inkeer sal kom.

Van tyd tot tyd het hy die onderwerp opgehaal, maar net gevind dat sy vrou meer verbete geword het.

En toe, een dag – kom die nuus dat sy vrou geboorte gegee het aan ‘n tweeling seuntjies. Die man was in ekstase – dit was God se oplossing, het hy gedink. Hy en sy vrou en ooreengekom dat elkeen sal verantwoordelik wees vir die opvoeding van een van die kinders – hy die priester, sy die kunstenaar.

Omdat die kinders identies was, het die vrou ‘n swart lint geneem en om “haar” kind se pols gedraai. Sy het streng instruksies gegee dat hierdie lint nooit verwyder mag word nie.

Maar twee jaar later het tragedie gekom – hul huis het per-ongeluk aan die brand geslaan en afgebrand voordat enige iemand kon keer. Net een van die twee kinders het oorleef.

Die swart lint is nerens gevind nie – die ma het oral in die puin gekyk, maar vergeefs. Die kind wat oorleef het het geen lint gedra nie, maar ‘n opvallende donker brandwond waar die lint kon gewees het.

Die man het dadelik aanvaar dat dit “sy” kind is wat oorleef het.

Sy vrou het niks gesê nie.

Die kind het ‘n seun geword, en later ‘n man, ‘n priester, en as ‘n ou man – ‘n kardinaal.

Sy ma het nooit weer iets gesê oor sy broer wat dood is nie, oor die kunste of die kunstenaar nie.

Sy was lief daarvoor om oor sy pols te streel – die brandwond wat nooit verdwyn het nie – en dit te soen – tot op haar sterfbed.

Met haar dood het hy deur haar kamer gestap en ‘n bottel parfuum gekry wat sy spesiaal laat aanmaak het.

“The flask was empty, but still gave out a faint fragrance. A multitude of things were in it, all in one. Smiles, as you say, and tears, dauntlessness and fear, unconquerable hope and the certainty of failure.”

Saterdag, Augustus 16, 2008

Frankenstein



Wie weet waar inspirasie vandaan kom? Mary Shelley het wakker geword in die nag en ‘n groot donker monster oor haar bed sien staan – sy het haar oë geknip en die kamer was leeg. Uit hierdie golf wat deur haar gespoel het het sy die storie van Frankenstein geskep, en daarmee saam ‘n legacy wat haar beroemde man deur die jare in die stof gelaat het.

Sy het die boek “The Modern Prometheus” genoem – Prometheus was die Griekse figuur wat vuur vir die mensdom gegee het, die Gode se woede gevoel en vir ‘n ewigheid daarna moes suffer – vasgeketting op ‘n rots met ‘n aasvoel wat knaag aan sy bors.

Haar storie het ‘n diep aar getref - deur die jare het Frankenstein dié uitstaande simbool van selfvernietiging geword, die gevare van droom en ontdekking, die grense van mens en God en ‘n nuwe visie van die toekoms - “a world of gods and monsters”.

Die storie word vertel deur ‘n avonturier - deel van ‘n groep oppad om die Noord-Pool te vind - wat, tot hul verstomming, ‘n half-verkluimde man in die ys vind, ver verby die punt waar enige vorige mense ooit gekom het.

Na twee dae sterf die vreemdeling op hul boot, maar leef lank genoeg om sy naam – Dr Frankenstein – en sy storie vir hul te vertel.

Soos almal weet het hy ‘n monster gemaak “stitched from corpses”, maar kon nie sy skepping in die oë kyk nie. Hy het sy lewe lank vir die monster gevlug, en daardeur alles en almal waarvoor hy lief was verloor – die monster het elkeen van sy familie, vriende en sy vrou vermoor – almal, behalwe vir hom.

Daar is ‘n sterk tema van eensaamheid – die monster vind tydelike rus wanneer hy woon saam met ‘n blinde man in die woud, versigtig dat hulle alle mense vermy en dat die twee nooit aan mekaar raak nie – maar die illusie kan nie volhou word nie.

Alles eindig op dieselfde boot, gestrand in die Noord-Pool, wanneer die monster aanboord klim om die lyk van Dr Frankenstein te neem. “He is dead who called me into being; and when I shall be no more, the very remembrance of us both will speedily vanish”.

Op die oomblik wanneer die monster vir altyd verdwyn word hy gekontronteer om te sê waarom al die moord en pyn nodig was.

Hy kyk na die dooie dokter en sê “because he dared to hope for happiness”.

En daarin lê die groot tema van Frankenstein vir my: skuld en gewete. Die monster wat ons almal jag is die monster van ons gewete – die hartseer wat ons ander mense aangedoen het wat weier dat ons onsself gelukkig mag wees.