Saterdag, Augustus 30, 2008

Die Kardinaal se Verhaal

Baie jare gelede was daar ‘n man en vrou wat vir jare gesukkel het om ‘n babatjie te kry. Hulle het – op hul dokter se advies – van mekaar geskei vir twee jaar terwyl die vrou in ‘n spa herstel het – en daarna weer probeer.

Hierdie keer was hulle suksesvol – die vrou het swanger geword.

Een aand maak die man ‘n afspraak met sy vrou om ‘n ernstige saak met haar te bespreek.

Elke dag van die twee jaar wat verby is, sê hy, het hy gebid en God belowe dat, sou hy ‘n kind kry, hy die kind se lewe aan God sou wy: sy kind sou ‘n Priester word.

Sy vrou se antwoord is dat sy ook vir twee jaar lank gebid het – nie aan God nie, maar aan haar ongebore kind – en hom elke nag belowe het dat sy hom die lewe sou spaar wat sy gedoem was om te lei. Haar kind sou ‘n kunstenaar word en ‘n lewe van vryheid en selfverwesenliking hê.

En belangrikste van alles - dat hy nooit sy voet in ‘n kerk hoef te sit nie.

Die man was ontsettend ontsteld – hy het met sy priester geraadpleeg, wat hom laat verstaan het dat alles waarskynlik emosie en hormone is, en dat sy vrou tot inkeer sal kom.

Van tyd tot tyd het hy die onderwerp opgehaal, maar net gevind dat sy vrou meer verbete geword het.

En toe, een dag – kom die nuus dat sy vrou geboorte gegee het aan ‘n tweeling seuntjies. Die man was in ekstase – dit was God se oplossing, het hy gedink. Hy en sy vrou en ooreengekom dat elkeen sal verantwoordelik wees vir die opvoeding van een van die kinders – hy die priester, sy die kunstenaar.

Omdat die kinders identies was, het die vrou ‘n swart lint geneem en om “haar” kind se pols gedraai. Sy het streng instruksies gegee dat hierdie lint nooit verwyder mag word nie.

Maar twee jaar later het tragedie gekom – hul huis het per-ongeluk aan die brand geslaan en afgebrand voordat enige iemand kon keer. Net een van die twee kinders het oorleef.

Die swart lint is nerens gevind nie – die ma het oral in die puin gekyk, maar vergeefs. Die kind wat oorleef het het geen lint gedra nie, maar ‘n opvallende donker brandwond waar die lint kon gewees het.

Die man het dadelik aanvaar dat dit “sy” kind is wat oorleef het.

Sy vrou het niks gesê nie.

Die kind het ‘n seun geword, en later ‘n man, ‘n priester, en as ‘n ou man – ‘n kardinaal.

Sy ma het nooit weer iets gesê oor sy broer wat dood is nie, oor die kunste of die kunstenaar nie.

Sy was lief daarvoor om oor sy pols te streel – die brandwond wat nooit verdwyn het nie – en dit te soen – tot op haar sterfbed.

Met haar dood het hy deur haar kamer gestap en ‘n bottel parfuum gekry wat sy spesiaal laat aanmaak het.

“The flask was empty, but still gave out a faint fragrance. A multitude of things were in it, all in one. Smiles, as you say, and tears, dauntlessness and fear, unconquerable hope and the certainty of failure.”

2 opmerkings :

  1. Agter my waar ek skryf, teen die muur, is twee portrette; die een van Virginia Woolf, en die ander van Karen Blixen - vreemd hoe baie hulle in die twee portrette na mekaar lyk, aan die end van hulle lewens. Albei se gesigte is half na regs gedraai, maw nie een kyk reguit na die kamera nie. Uit V.W. se gesig spreek iets soos 'n half-siniese aanvaarding: 'dan is dit hoe dit is!' Om K.B. se mond is 'n huiwerige fyn glimlag wat sê: 'unconquerable hope'. Dankie dat ek deur jou vertelling na jare die presiese emosie kon vasstel uit har eie woorde in The Cardinal's Tale. Hoe geniet ek jou blogs ...

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir die mooi woorde

      Dit is fantasties om sulke terugvoering te kry. Daar is nog 'n hele paar Karen Blixen stories waaroor ek wil skryf. Een van die roerendstes is "Copenhagen Season".

      Soveel mooi goed op aarde, so min tyd.

      Vee uit