Vrydag, Februarie 18, 2005

Gilgamesh

Wereldbeskawing het tussen die Tigris en die Eufraat begin - maw vandag se Irak - so sê die teksboeke. Nou ja, ons sal sien of dit waar bly, algaande nuwe argeologiese ontdekkings oral gemaak word.

Intussen is dit so dat, wanneer die gordyn lig oor die mens se beskawing - die eerste, oudste tyd wat in skrif vasgelê is - vind ons allerande fragmente en stories oor 'n koning met die naam van Gilgamesh.

En dan, min of meer 4000 jaar terug, ontstaan 'n epos wat al die ouer fragmente ineen weef - waarskynlik deur 'n Babiloniese digter. Hierdie epos is vir eeue lank deur studente van die tyd op kleitafels gekopieër, as deel van hul standaard onderwys.

Vandag noem hulle dit "Die Epos van Gilgamesh" - die oudste lang storie wat op skrif behoue gebly het, 800 jaar ouer as die Ou Testament en meer as 'n 1000 jaar ouer as die Griekse Iliad en Odyssey. Die argeoloë wat hieraan werk glo dat hulle tot op hede omtrent 2500 van die 3000 lyne uit honderde verskillende kleitafels aanmekaar gesit het (ironies genoeg - hoofsaaklik uit Amerikaanse, Europese en Israeli universiteite - waar hierdie tafels deesdae is).

"Gilgamesh" is ontsettend interessant - deels omdat dit so oud is, maar ook as gevolg van die briljante storie en die groot tema - vrees vir die dood, wat so min deur die eeue verander het.

Ek sou dit graag wou vertel, maar ek wil mense aanmoedig om dit self te lees.

Gilgamesh is die tiran van 'n koningkryk genaamd Uruk, sy mense pleit by die Gode vir iemand wat hom kan vernietig. Die Gode skep Enkidu, maar die twee word vriende, eerder as vyande, en saam doen hulle heldedade wat die wereld verstom.

En dan eendag, wanneer hulle op die kruin van roem en sukses is, word Enkidu siek en sterf - nie in 'n heroiese geveg nie - maar in sy slaap, in sy bed.

Die dood van Enkidu is 'n enorme skok v Gilgamesh, wat sy heldedade los, sy koningkryk verlaat en die res van sy lewe wy aan die soeke na ontsterflikheid.

Van die res sal ek niks sê nie, behalwe dat dit uit en uit die moeite werd is. (Dit bevat, onder andere, 'n ouer weergawe v die Groot Vloed en die Ark)

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking