Dinsdag, Januarie 11, 2005

The Day After Tomorrow

Ek het die anderdag saam met my seuntjie 'n paar waterbomme uit koerantpapier gevou. Ons het water ingetap en dit toe - SPLAT! - teen die muur gegooi. Met die impak het die papier gebars en 'n groot nat kol teen die muur gelaat. COOOOL !! Ons het die tweede en derde bomme gegooi, maar die lekkerte was vinnig weg - ons weet mos nou al immers hoe dit voel.

Wat is die impuls wat maak dat ons sulke goed doen? Ek dink dis die kind daarbinne wat wil sien wat gaan gebeur - klein duiweltjie - plain en simple.

Op dieselfde dag het ons gekyk na "The day after tomorrow", op DVD.

Die Amerikaanse somerprent is daardie kind in ons. En maak nie saak hoe oud jy word nie - die kind is nie dood nie. Hierdie keer gooi hy die swellende Atlantiese Oseaan teen die stad van New York. COOOL !! Anderdag is dit Eight Legged Freaks - spinnekoppe so groot van motorkarre, Godzilla wat geboue plattrap, of Aliens wat stede uitbrand, Terminators wat die aarde opblaas, 'n meteor wat vlieg na die aarde en naderkom en naderkom...

En wat wil ons sien: dis daai SPLAT! van die impak.

As jou waterbom $100 miljoen kos moet dit darem verpak word vir die okkasie met 'n storie en 'n rationaal, soos die lint en die toedraaipapier van 'n persent. Maar ai, dis wat binne-in is wat tel. Elke karakter word soos 'n driepoot kamera "in posisie in" manoeuver om ons 'n ander hoek van die SPLAT te wys - en dan weet jy: houvas, hier kom dit...

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking