Dinsdag, Julie 05, 2016

kanna hy kô hystoe

Daar is 'n sekere soort boekskryf wat in werklikheid die wegkerf van hout is, totdat jy kom by die essensie van dinge. Die boek self is die afval op die vloer. Die titel is die essensiële eindpunt daarvan - die pêrel in die oester - 'n hard-gewonne idee, tema, 'n metafoor, 'n visie van dinge.

Dit staan op die voorblad asof alles daarmee begin het, maar kristalliseer stadig, drup drup, in die skryf totdat die regte paar woorde skielik na mekaar verskyn.

In projekbestuur sê ons "die einde is die begin", bedoelende dat vordering eers gemaak kan word wanneer almal die eind-doel duidelik genoeg verstaan. Gewoonlik is 'n groot deel van die aanvanklike rondvallery om die eind-doel vas te vang, en daarna kan die werk begin.

Die kreatiewe proses is ook so - jare se perkolering totdat die sleutel draai, en daarna die werk om dit te realiseer.

Dink aan Fear and Loathing in Las Vegas

Wat sou hierdie boek gewees het sonder daardie twee woorde?

kanna hy kô hystoe is vier sulke woorde. Dis maklik om dit te hoor en te dink - dis nie so besonders nie. Maar dit is.

kanna is die beste Afrikaanse drama wat ek ken, en die krag daarvan lê in die eenvoud van die konsep: 'n ma wat verlang na haar seun.

Die ma is Makiet wat droom oor die dag dat haar liefling seun weer sal terugkom huistoe. Met die tragedie van haar dogter Kitty se moord hoop sy dat Kanna sal kom vir die begrafnis.

Die twee kante van hierdie situasie bevat soveel: Makiet se verlange is die bewaring van hoop - dat iets goeds nog sal gebeur in hierdie lewe. Sy is soos Don Quixote - blind vir die pyn om haar solank hierdie hoop sal bestaan.

Aan die ander kant is daar Kanna se weersin om met hierdie verlede gekonfronteer te word, met soveel slegte herinnerings en skuldgevoelens. Hy het ontsnap uit hierdie wêreld en sy vrees om nie terug te keer nie hou hom aan die gang, net soos haar droom dat hy sal.

Ek het hom swaar grootgemaak, dink Makiet.

Die ironie is in die laaste tonele, wanneer Kanna "gehaal word" op die stasie vir sy ma se begrafnis, omdat die hele woonbuurt so verander het dat hy niks meer daarvan sal herken nie. Die verlede is nie in huise in strate nie, maar tussen mense.

***

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ‘n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptenaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

1 opmerking :