Dinsdag, September 08, 2015

A Visit From The Goon Squad

Die Goon Squad is die ouens wat die baas stuur om jou op te donner as jy dreig om te staak. Of andersom, die vakbond as jy nie wil staak nie. Hoe dit ook al sy, dit eindig pynlik en dit eindig met jou wat doen wat jy nooit wou nie.

Daar is geen sulke mense in hierdie boek nie - dit gaan losweg oor musiekmense: 'n kitaarspeler, vervaardiger, groupies, assistente, joernalis en dies meer.

Maar een karakter sê op sy sterfbed: Time is a Goon.

Tyd wat verbygaan is die Goon Squad wat kom en jou klap vir die keuses wat jy gemaak het, en daarna forseer in 'n rigting wat jy nooit wou hê, nooit sou voorsien nie.

Die Goon Squad klap vir jou - maar ook die wereld rondom jou, totdat dit al die betekenis daaruit geslaan het:

Soiled forgotten coats of arms were carved above their massive doorways, and these unsettled Ted: such universal, defining symbols made meaningless by nothing more than time.

Die formaat van die boek is eienaardig. Daar is geen storie wat druk opbou na 'n klimaks nie.

Die hoofstukke volg mekaar met verskillende karakters as fokuspunte. Die hoofkarakter van hierdie hoofstuk verskyn gewoonlik weer in 'n ander hoofstuk as 'n byspeler, maar op 'n ander ouderdom in 'n ander tydsera.

So deur die helfde van die boek het dit vir my soos toetskrieket begin voel: elke kolwer kry twee beurte om lopies te maak, en daarna is hy uit. Ons sien hom/haar nie weer nie.

Beste oomblik: ou kennisse wat saamkom rondom Lou se doodsbed en dan vra waar sy seuntjie Rolph van destyds is. Rolph het lank terug sy lewe geneem.

Rolph didn't make it, antwoord hy.

Time is a Goon.

My gunsteling karakter - vir die rukkie wat sy daar was - was Mindy, 'n filosofie student wat die term structural hatred gebruik om te rationaliseer waarom sy deur 'n ander vrou gehaat word. Later brei sy dit uit met definisies vir structural resentment, structural affection, incompatibility, desire ens.

Die skrywer vermy daardie "bal wat jou naam op het" - soos kolwers sê, die een wat jou paaltjies gaan neem. Dit vorm amper nooit deel van die dramatiese situasies nie, sy verwys net daarna asof sy dit terloops noem as 'n nagedagte - hierdie een het 'n professor geword, daardie twee is geskei ens.

Sy vermy haar eie "Goon Squad" - die boek is die voor en die na en die tussenin dae - die res los sy vir die verbeelding.

Toe ek die krieket gevoel begin kry het het ek teruggedink aan Roy Harper se song When an old cricketer leaves the crease. Dit gaan oor daardie oomblik wanneer die ou kolwer van die veld stap - was dit die laaste keer?

Gepas.

1 opmerking :

  1. Interessant. Is u bekend met Penelope Lively se Moon Tiger (1987) (weet u wat 'n moon tiger is?) - dit bied ook 'n pragtige (humoristiese) bepeinsing oor tyd (waarvoor Sean Gaston se Starting with Derrida baie insiggewend is - Gaston lees Derrida se werk o.a. vanuit die perspektief van Shakespeare se The Winter's Tale met Act Four wat begin: "Enter TIME, the CHORUS").
    Soos Wikipedia dit rakende Moon Tiger stel: "It is written from multiple points of view and moves backward and forward through time. It begins as the story of a woman who, on her deathbed, decides to write a history of the world, and develops into a story of love, incest and the desire to be recognized as an independent free thinking woman of the time." Die hoofkarakter, die eiesinnige rooikop Claudia Hampton, 'n "76-year-old English woman and a professional historian" is terminaal siek "and is spending her last remaining moments in and out of consciousness thinking of writing a history of the world with her life as a blueprint. Her first, primordial recollections are of a father that died in World War I, and of the summer of 1920, when she was 10 and competing with her 11-year-old brother Gordon for fossils." Dit bevat ook 'n dierbare romanse - mens sou dit as 'n ligte weergawe van Ondaatjie se The English Patient (een van my top 10 boeke) kon beskou.
    Tyd, die geskenk van die dood, letterkunde in geheim (laasgenoemde verwys na 'n besondere (digte) boek van Derrida waarvan die voorblad bestaan uit Rembrandt se ets van die oomblik toe Abraham Isak se keel wou afsny en God se Engel hom roep en hy antwoord "Hier is ek" en die offeraksie so onderbreek word. Mens sou kon sê (Shakespeare se?) tyd sê wat Derrida in "At This Very Moment in This Work Here I Am" sê : "Interrupt me". ... Nou moet mens weer meer van die Christelike nosie van mysterium tremendum weet ... maar ek onderbreek myself maar eerder nou eers hier. Dankie weereens vir 'n baie provokatiewe bloginskrywing Mnr Rautenbach. (My werk en lewe is tans gelyktydig uiters saai en baie stresvol, so ek geniet die afleiding van u skrywes.)

    AntwoordVee uit