Maandag, Julie 27, 2015

Tussen my boeie en my vlerke

Dis 'n bekende feit dat Star Wars fanboys nie die Prinses Leia pop wil koop nie. Mans lees nie vrouedigters nie.

Ek het nooit gehou van "Afrikaans se tweede gewildste gedig" - Maria - nie.

En verder het ek 'n weersin in Elizabeth Eybers - die feit dat sy die land halfpad deur haar lewe verlaat en nooit teruggekom het nie. Asof ons 'n pes is wat sy nooit weer wou hê nie.

En so, met my vooroordele, het ek haar nooit geken nie. Eers nadat sy oorlede is het ek begin belangstel.

Vandag, natuurlik, sien ek haar totaal anders. Ons eerste vrou digter - en die beste.

Wanneer ek haar gedigte lees kry ek die gevoel kry dat daar 'n wereld is wat ek nooit sal verstaan nie, nooit sal kan oordeel nie - maar lewendig en kragtig nietemin.

Eybers moes iets in haar lewe gehad het - die ander dors - waarmee en waarsonder sy nie kon lewe nie.

In een van Karen Blixen se verhale maak 'n man sy oorlede ma se parfuumbottel oop en ruik daaraan.

A multitude of things were in it, all in one. Smiles, as you say, and tears, dauntlessness and fear, unconquerable hope and the certainty of failure.


Tussen my boeie en my vlerke - wat 'n magtige metafoor van menswees, van vrouwees!


Luister jy nog? My stem is sag,
my liggaam is so diep en teer:
vergun my om nog hierdie nag
Die weemoed uit jou oë te weer.

Vertoef nog tot die daeraad, dat 
jy vry mag wees om hiervandaan 
'n man se verre wee wat 
ek maar net vaag vermoed te gaan

Die onversteurbare, die sterke,
dit moet jy bly, ook wanneer ek
tussen my boeie en my vlerke
smartlik gespanne en gestrek

jou wil belet omdat ek nog 
nie weet hoedat ek jou kan ontbeer
wanneer jy vir jou nuwe tog
die boegspriet teen die branders keer. 

4 opmerkings :

  1. Tussen my booie en vlerke...jinne ..dis verruklik

    AntwoordVee uit
  2. Wat het ek al die tyd gemis omdat ek nie bewus was van jou blog nie!

    AntwoordVee uit
  3. Gert, ek hou baie van hierdie blog. Ek't my Eybers bundeltjie te lanklaas oopgemaak en toe ek dit nou doen hou ek ook baie van "Maria Magdalena", twee gedigte voor "Circe" (wat natuurlik die eintlike titel is van die gedig wat jy hier aanhaal). Ek tel iets van daardie masochistiese "ander dors" (wat die titel is van Eybers se 1946 bundel), oftewel "unconquerable hope and the certainty of failure", hierin op. Ek voeg "Maria Magdalena" hier by vir lesers wat dalk nie die bundel het nie:

    MARIA MAGDALENA
    uit wie sewe duiwels uitgegaan het

    Ek sal nog ander tekens moet vergaar,
    want, stamelend en verleë soos 'n kind
    as hy wat nuut en vreemd is wil verklaar
    en net die ou, vertroude name vind,
    kan ek geen woorde vir die wonder kry
    as dat Jy my met helderheid omhul
    soos lig en lug en dat Jou stilte my
    met soetheid soos 'n boom met sap vervul.

    Dit was die slot, dit is die teer begin
    waarvan ek, mymerend, die doel en sin
    weldra sal losmaak van wat vooraf was:
    dit was die end van alle pyn, die blus
    van elke bitterheid, dit was die rus,
    dit was die neerlê van die laaste las.

    AntwoordVee uit
  4. Dankie! Ek het nie die gedig van haar geken nie. Ek gaan kyk of dit opgeneem is in Verswêreld. Groete!

    AntwoordVee uit