Sondag, Januarie 04, 2015

Die Artscape verse

Ek was op 1 Januarie by Artscape vir die vertoning van War Horse.

Terwyl ek daar was het dit my opgeval dat die twee Afrikaanse gedigte wat saam met die opening van die destydse Nico Malan Teater in 1971 onthul is, nogsteeds daar is. Niemand het dit ooit verwyder nie.

Vir die eerste keer het ek gaan stilstaan en dit gelees en mooi gedink oor wat dit sê.

Opperman - rymer van die Republiek - het 'n kwatryn geskryf



Hier wissel stuk en spelers, hulle oord
En toeskouers, maar kragtens die woord
Gaan deur die eeue - soos oor Tafelberg
Die wolke - die spel steeds voort.

NP van Wyk Louw het gesê hy is nie 'n man vir "geleendheidsverse" nie, dankie. Later, nadat hulle sy gat gelek het, het hy toegelaat dat sy broer WEG Louw iets uit sy werk kies om te gebruik.

WEG Louw het die laaste drie reels uit die gedig Vooraf gespeel, die prelude van Gestaltes en Diere, gekies.



O Woord, geslote kamer vir die skoonheid klaar - 
gaan oop vir my dat ek my in jou red
met hierdie vrag van aardse sekerheid en pyn.


Ek het gestaan en dink watter een van die twee ek verkies

Hier wissel stuk en spelers, hulle oord
En toeskouers, maar kragtens die woord
Gaan deur die eeue - soos oor Tafelberg
Die wolke - die spel steeds voort.

Dit klink lekker op die tong, neutraal universeel met 'n tikkie Kaapstad.

Het dit waar geword? Dis 'n ander Suid Afrika, maar die stuk en spelers, toeskouers en oord - is nog baie dieselfde. Die grootste verskil is seker maar Afrikaans wat verswak maar nog nie verdwyn het nie. Is daar meer of minder Afrikaans op die planke as in 1971, wonder ek?

Elkgeval, ek hou van Opperman s'n - dis heeltemal mens. Daar is geen God of Muse, Geloftes of Beloftes nie.

Dan, Louw:

O Woord, geslote kamer vir die skoonheid klaar - 
gaan oop vir my dat ek my in jou red
met hierdie vrag van aardse sekerheid en pyn.

Dit is tipies Louw: as dit begin met O God / O Woord weet jy dit gaan eindig met 'n instruksie ( ...gaan oop vir my... )

My instinktiewe gedagte was dit hy sekerlik bedoel het aardse onsekerheid en pyn - maar die ritme daarvan is verkeerd -  met hierdie vrag van aardse onsekerheid en pyn - dit vloei nie reg nie.

Dis natuurlik onmoontlik: aardse sekerheid en pyn.

Louw het dit nie geskryf vir die teater nie, maar watter betekenis kan dit hê vir die massas wat by Artscape in en uit vloei?

Ek hou van die idee dat woorde die droeë verf van die teater is - die buitenste laag wat skoonheid klaar gevang het.

Gaan oop vir my dat ek kan ontlaai en vasvang en deel-met-die-mensdom terselfdertyd.

Ja, dis mooi - ek voel dit ook.

Die uiteinde vir my is dat ek dankbaar is dat hierdie twee stukkies Afrikaans nog daar hang.

Ek hoop ons kunstenaars sal aanhou werk daar binne, dis die enigste manier om hulde aan hierdie twee reuse te bring.

1 opmerking :

  1. Later, nadat hulle sy gat gelek het, het hy toegelaat dat sy broer WEG Louw iets uit sy werk kies om te gebruik.

    AntwoordVee uit