Saterdag, November 01, 2014

Los 'n vlam en die huis brand af

Leo Tolstoy het jare terug hierdie morele storie geskryf, oor twee beste buurvriende wat in 'n onbenullige rusie betrokke raak. Ek kan nie hulle name onthou nie - noem hulle maar Leo en Fyodor.

Dit begin wanneer Leo se vrou oor Paasnaweek eiers gaan "leen" by Fyodor se vrou, met die suggestie dat dit tog in werklikheid húlle eiers is: dis haar hen wat deur die heining kruip om eiers op die buurvrou se werf te lê.

Hierdie klein opmerking gee onverwagte en woedende aanstoot by die buurvrou - en skielik is die vrouens kwaai vriende.

Teen die tyd dat Fyodor en Leo mekaar weer sien het elkeen 'n oorvol gekry, sy vrou se kant gekies en verwag 'n verskoning van die ander.

Daar is geen verskoning nie, in teendeel - elkeen onthou skielik 'n lang lys foute en irritasies en ander dinge wat hulle nog altyd gegrief het.

Vinnig ontvleg die twee gesinne alle kontak tussen mekaar - geen meer besoek en kuier, geen saamry na die kerk, die kinders speel nie meer oor en weer nie.

En dan eendag word Fyodor se vrou swanger. Wanneer Leo haar terloops raakloop wik en weeg hy om haar geluk te wens - maar hy is nog te trots en te kwaad - en kry dit nie oor sy hart nie.

Wanneer sy sien dat hy niks gaan sê nie roep sy venyning agter hom aan

"Ja - anders as jóú vrou ís ek swanger!"

En dan, voor hy besef wat hy doen, draai Leo om en gee haar 'n klap.

Om 'n swanger vrou te klap in daardie dae was heiligskennis en Leo word summier gearresteer.

Die regter gee hom 'n keuse - 100 loesings met 'n rottang, of hy kry die kans om vir die vrou wat hy geklap het en haar man onverskoning vra en hul vergifnis te wen.

Leo kies die loesings, maar met 'n waarskuwing aan sy vyande

"Geniet dit vandag, want soos wat my rug gaan brand, so sal jou huis brand"

Die vonnis word voltrek - Leo word geslaan en later vrygelaat om by die huis aan te sterk.

Maar nou heers paranoia in die straat - Fyodor is oortuig daarvan dat sy buurman wag vir 'n geleendheid om sy huis aan die brand te steek - en staan snags wag.

En hy is reg. 'n Paar weke later betrap hy Leo wat in die dood van die nag op sy werf sluip en 'n vlam in sy skuur aansteek.

Leo vlug en word agtervolg deur 'n verbete Fyodor, wat hom  twee strate ver inhaal en oorrompel.

"Vandag vermoor ek jou!"

Die twee vegtende mans word uiteindelik deur bure uitmekaar getrek - almal skree

"Die dorp brand af!"

En wanneer die twee mans terugkyk sien hulle dat Leo se huis brand, dat Fyodor se huis brand, en dat die bure se huise ook besig is om aan te steek.

Die verslae Fyodor kyk na sy ou vriend en sê

"Dit was só klein vlam - ek moes dit net doodtrap".


Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking