Donderdag, September 05, 2013

'n Saak van Geloof

'n Paar jaar terug is daar 'n klein Afrikaanse fliek in Prins Albert gemaak met die naam 'n Saak van Geloof. Dit het terrible reviews gekry en vinnig verdwyn.

My vrou, wetend dat ek 'n groot Robbie Wessels fan is, het dit een aand vir ons op DVD uitgeneem.

Daar is 'n sekere soort fliek wat great is ten spyte van alles: regie, spel, inkleding en draaiboek. Great (en herois) omdat dit 'n great storie het om te vertel en verbete is om dit te doen, maak nie saak hoe gebrekkig die middele, die geld of talent is nie.

Ek het hoendervleis gekry aan die einde en dit het my altyd bygebly. Vandag dink ek terug daaraan as - nie die beste nie - maar die interessantste Afrikaanse fliek van die 2000s.

Dit gaan oor 'n skooldogter - Mariekie - wat swanger word en sweer dat dit "immaculate conception" is, ten spyte van oorweldigende ongeloof deur almal op die dorp. Haar saak vererger hopeloos nadat 'n skool onderwyser kort daarna selfmoord pleeg.

Tog hou sy voet-by-stuk met haar verduideliking - dit is die Heilige Gees se kind.

Die lewe gaan aan en die baba word gebore - maar die plaaslike dominee waarsku haar dat sy nie die kind mag doop in die Kerk as sy nie bereid is om haar storie te verander nie.

Sy bly verbete en soek kerk na kerk om te kyk of iemand die kind sal doop - maar die weduwee van die oorlede onderwyser - Sanna - is haar groot teenstander en bederf elke keer haar saak deur 'n teen-pleidooi te lewer.

En dan eendag nog 'n katastrofe. Dieselfde weduwee Sanna het 'n tiener seun wat met aggresiewe kanker gediagnoseer word.

Met niemand wat kan help nie, begin Sanna wonder: sê nou maar dit is waar, dat 'n wonderwerk besig is om te gebeur, dat haar man onskuldig was, dat die Heilige Seun onder almal se neuse in die dorpie is en miskien haar kan help?

Soos 'n Joan-of-Arc-van-ouds verander Mariekie hoe almal - haar ouers, die dominee, die gemeenskap - na haar kyk, bloot deur die absolute onwrikbaarheid van haar geloof in haarself.

Mariekie kry uiteindelik 'n charismatiese predikant wat bereid is om haar baba te doop, in die middel van 'n rivier saam met sy groep histeriese volgelinge.

Hierdie keer kyk Sanna en haar siek seun in stilte van die rivier se wal, maar probeer nie om enige iets te stop nie.

En dan, tot almal se afgryse - in die middel van die water-doop seremonie - gly die baba uit Marietjie se hande, val in die rivier en verdrink tussen almal se bene, voordat enige iemand hom kan red.

In die laaste toneel staan die twee vrouens saam by die baba se graf.

En dan sê Mariekie uiteindelik: Ja, dit was jou man se kind.

En hulle omhels mekaar.


1 opmerking :