Woensdag, Januarie 05, 2005

Wat is Kuns?

Iewers op sy oudag het die Russiese skrywer Leo Tolstoy saam met 'n vriend na 'n opera-repetiese gaan kyk. Terwyl hulle in die lee saal gesit het, het hulle gesien hoe die operagroep oefen.

Ses Turkse slawe met 'n prinses op hul skouers het van die sydeur ingestap gekom, gestop, en gesing: "Ons bring die prinses"

Vir die hele tyd terwyl hy daar gesit het, kon die geselskap nie verby hierdie punt kom nie. Eers was hulle te vroeg, dan te laat, dan te onelegant, dan het die prinses nie reg afgeklim nie, dan was die musiek se aanloop nie reg nie, dan was dit die kostuums, die grimering, die stemme nie in pas nie. So het hulle die hele dag gesit.

En skielik het hierdie toneel v Tolstoy 'n lewenslange vraag gekristalliseer:

Waarvoor al die sweet en sukkel en swaardrae? Wat is dit wat die regisseur dink hy gaan regkry? Sou die perfekte stappie die verhoog op, met die mooiste pluime en die regte swelling in die musiek vir die woorde "Ons bring die prinses" - sou dit ooit 'n spesiale evaring kon wees? Sou dit ooit kuns kon wees?

Wat is kuns?

Toe sy berugte boek "What is Art?" uiteindelik verskyn het, het hy met daardie herinnering begin. Na 'n loopbaan as die wereld se grootste skrywer, met die mooiste vrou, dertien kinders, 'n enorme landgoed en miljoene in die bank en nog 'n "Count" boonop, met niks meer oor om voor te wens nie, het Tolstoy 'n ernstige krises in sy lewe ondergaan.

Uiteindelik het hy besluit dat die hele korpus Westerse kuns die pot totaal misgesit het. Daar is geen kuns te vinde in die werk v Michelango, Shakespeare, Wagner en - you guessed it - Leo Tolstoy nie.

Hoe so? Alles spruit uit die verkeerde intensies, uit daai mistasting van wat kuns is. Tolstoy sê dat hy nie verder as bladsy een van boeke gelees kry nie, omdat die skrywer se ego en sy drang om te beindruk onmiddelik op die bladsy is. Ek sien hul intensie en daarna is die boek dood.

So wat de hêl is kuns dan?

Kuns is die poging van twee mense om mekaar te verstaan. Elke keer as jy 'n eerlike poging aanwend om vir iemand te vertel hoe hartseer jy is, hoe bly jy is, hoeveel jy verlang - en wanneer jy dit regkry: dan is daar kuns. Die res is als egos en snert.

Nou ja, was Tolstoy die klits kwyt? Ek het die boek 'n paar jaar terug gelees en gedink: ja ja, as dit maar so maklik was.

So 'n jaar terug het ek 'n versameling stories wat hy in daardie tyd van sy lewe geskryf het, gelees.

Die boek se naam is "Loop in die lig".

Al hierdie stories is kort, eenvoudig en swaargelaai met moraliteitslesse - die soort goed wat ek haat. Ek het dit gekoop op Amazon van 'n Christelike boek-uitgewer. Maar wat kan ek sê: dit is waarskynlik die beste boek wat ek ooit gelees het - sekerlik een wat ek na 'n woestyn eiland sal neem. Daar is 'n soort insig en skoonheid daaraan wat ek nerens anders ooit teegekom het nie.

So nou wonder ek - het die ou man iets verstaan wat hierdie wonderwerk moontlik gemaak het?

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking