Vrydag, Januarie 12, 2018

Vergete Afrikaanse gedigte #5



By alle treurigheid en leed wat my lot is, het die groete van my volk my tot dankbaarheid gestem. En van ganser harte dank ek almal wat aan hul ou Staatspresident gedink het waar hulle saamgekom het om oor die hede en die toekoms te beraadslaag en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie. Want wie vir hom 'n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Daarom, soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik. Dit is waar: Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel en gevalle. Maar met eenheid van wil 'n eenheid van kragte kan daar weer opgerig word wat tans in die stof lê.

Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat eenheid en eendrag by u heers. Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde "verdeel en heers" nie en sorg dat hierdie woorde nooit op die Afrikaanse volk van toepassing sal wees nie. Dan sal ons volk en ons taal steeds bloei.

Wat ek self nog daarvan sal aanskou of beleef, lê in Gods hand. Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie om daaronder te sterf nie. Ek het geleer om by die bittere gedagte te berus dat ek as 'n balling in die vreemde die oë sal sluit, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwant en vriende wat ek waarskynlik nooit weer sal sien nie, ver van die Afrikaanse bodem wat ek wellig nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my lewe gewy het om dit vir die beskawing te open en waar ek 'n eie nasie sien ontwikkel het.

Maar die bitterheid sal versag word as ek die oortuiging kan bly koester dat die werk waarmee begin is, voortgesit sal word. Want dan sal die hoop en die verwagting dat die einde van die werk goed sal wees, my staande hou. So sy dit.

Uit die diepte van my hart groet ek u en die ganse volk.


-Paul Kruger

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking