Dinsdag, Augustus 11, 2015

Waarvan mense leef

Nog een van die Tolstoy verhale wat ek nooit sal vergeet nie - al kan ek nie alles daarvan onthou nie - Waarvan mense leef
 
Dit gaan oor 'n skoenmaker en sy vrou wat alleen woon net buite die dorp. Eendag, wanneer die skoenmaker werk toe stap, sien hy (uit die hoek van sy oog) wat lyk soos die kaal lyk van 'n dooie man wat lĂȘ in die sloot langs die pad. 

Met skok en afgryse hou hy net aan stap, asof hy homself verbeel het, totdat sy gewete hom soveel plae dat hy omdraai om te gaan kyk.

Wanneer hy terugdraai vind hy inderdaad 'n kaal liggaam - maar die man is lewendig en uiters gedisorienteer.

Die vreemdeling is klaarblyklik stom en kan geen verduideliking gee vir wie hy is en hoe hy daar beland het nie.

Dit alles realiseer die skoenmaker se ergste vrese: hy wens hy het net aanhou loop en weggekyk. Noudat die mens wat hy gevind het lewendig is is hy verantwoordelik.

Ten spyte van alles het hy 'n sagte hart en neem die vreemdeling terug na sy huis toe, waar hy en sy vrou hom versorg.

Die vreemdeling bly stom vir altyd, maar werk uiteindelik in die skoenmaker se winkel en woon, in stilte, saam met hulle.

Baie jare gaan verby op hierdie manier.

Dan daag daar 'n ryk man op in die dorp wat 'n paar jagstewels by die skoenmaker bestel.

Die skoenmaker laat die taak oor aan sy stom handlanger, wat - tot sy afgryse - die opdrag totaal verkeerd verstaan en 'n paar pantoffels maak.

Terwyl die skoenmaker nog verward dink hoedat hy dit gaan regstel daag die ryk man se boodskapper op - met die nuus dat die meester oornag gesterf het, en dat sy weduwee sy bestelling van jagstewels wil verander in 'n paar pantoffels vir sy voete in die kis.

En dan - nadat die boodskapper vertrek met die pantoffels - praat die stom vreemdeling vir die eerste en enigste keer.

Hy is 'n engel wat die Here uit die hemel verban het totdat hy die volgende antwoorde sal leer:

Wat is in mense?
Wat sal nooit in mense wees nie?
Waarvan leef mense?

Wat is in mense? Liefde
Wat sal nooit in mense wees nie? Die wete van wat voorlĂȘ.
Waarvan leef mense? Van die liefde van ander mense.

'n Hulpelose baba word 'n kind - nie van kos en melk nie - maar van die liefde van sy ouers.
Siek mense oorleef - nie dansky medisyne nie - maar danksy liefde en versorging.
Oumense hou aan leef van die liefde van en vir hul kinders.

Ons kan die lewe verdra en terugslae oorkom en uit bankrotskap herstel met die liefde van vriende en familie.

Dit was die skoenmaker en sy vrou se liefde wat die Engel aan die lewe gehou het - al kon hy nie 'n woord praat nie.

En met daardie besef verdwyn die Engel, en laat die skoenmaker weer alleen.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking