Vrydag, Maart 21, 2014

Jenůfa

Die Tjeggiese komponis Leos Janacek het laat in sy lewe een van die mooiste en grootste operas in die wereld geskryf: Jenůfa.

Dit is brutaal en terselfdertyd diep menslik, ongetwyfeld een van die beste dramas in die hele repertoire.

Die drie bedrywe van die opera is in drie seisoene - herfs, winter en lente - en bestaan uit geronde mense, elkeen met goed en kwaad.

Dit gaan oor 'n meisie Jenufa wat verlief is op 'n playboy (Steva) - en reeds swanger met sy baba.

In die eerste bedryf daag hy dronk saam met sy makkers op en maak 'n bespotting van haar pleidooie - maar sy bly lojaal aan hom ten spyt.

Jenufa se ma, Kostelnika, jaag vir Steva weg en verbied hulle huwelik vir een jaar - waarin hy moet bewys dat hy sober kan bly.

Dit is slegte nuus vir haar dogter; Steva het geen erns om so 'n onderneming te maak nie, en hy neem koue afskeid van die angstige Jenufa.

Hierdie hele toneel word met veragting bekyk deur Laca - dis 'n ou wat heimlik verlief is op Jenufa en nie kan glo dat sy haarself gooi aan die voete van sulke skuim nie.

Die opera begin met Laca wat 'n stomp mes inhandig om geslyp te word. Alles gebeur met die klank van die slypsteen daar ver en nou het Laca sy mes weer in sy hand.

In 'n oomblik alleen met Jenufa probeer hy haar uitlok om te erken dat Steva haar gaan dump. Hulle stry, sy klap na hom en in die loop van hulle onderonsie swaai hy sy mes en sny 'n lelike wond deur haar wang.

Was dit opsetlik? Hy sê natuurlik dadelik so en vra tot in onteinde omverskoning - en hy bedoel dit.

Maar was dit? In sy hart weet Laca dat iemand so vol van homself soos Steva nooit 'n bruid met 'n fisiese gebrek sal neem nie. Het hy haar met opset geskend? Wou hy haar doodmaak?

Die sny deur haar gesig dra Jenufa tot die einde.

En soos Laca voorspel het is dit die einde van haar en Steva.

Selfs wanneer haar ma hom konfronteer met die feit dat haar dogter geboorte aan sy kind gegee het, bied Steva aan om die kind in die geheim te onderhou - maar hy is klaar met Jenufa (en haar verkrampte ma) en reeds verloof aan 'n nuwe meisie.

Einde van Steva.

Intussen voel Laca nog sleg oor die wond wat hy Jenufa aangedoen het en bied aan om met haar te trou. Maar hy kry koue voete wanneer hy hoor van haar baba - en dat dit die afstootlike Steva se kind is wat hy moet grootmaak.

In 'n oomblik van desperasie sê die arme Kostelnika, Jenufa se ma, vir hom dat die kind sopas gesterf het (wat besiel haar!).

Ironies genoeg vind Laca hoop en 'n roeping in hierdie nuus: hy kan homself redeem deur Jenufa te help deur die dood van haar kind.

Die twee van hulle bring die nuus van die kind se dood aan die geskokte Jenufa - wat daar niks van weet nie. Heeltemal verbyster en gedisorienteer, aanvaar sy Laca se huweliksaanbod en sy onderskraging.

Maar die kind lewe nog.

In een van die mees ongelooflike tonele in die opera besluit Kostelnika om dit deur te sien - en sy verdrink die baba in 'n oomblik van paniek sodat haar dogter en Laca kan trou.

Maar, soos in een van Euripides se Griekse tragedies, word die lyk van die kind ontdek en alles ontrafel totaal.

Die opera eindig met 'n eenvoudige oomblik tussen Laca en Jenufa (nogsteeds met die geskende gesig), alleen, waar sy hom bedank vir alles wat hy vir haar gedoen het en hom dan wegstuur - sy gaan nie saam met hom lewe nie.

Liefde, moeite, en dank - maar geen vergifnis.

Vrydag, Maart 14, 2014

Underground

Yugoslavia was die enigste Europese land wat die juk van die Nazis afgeskud het sonder die hulp van óf Amerika óf die Sowjet Unie. Danksy hiervoor was Maarskalk Tito uit die staanspoor die enigste werklik onafhanklike kommunistiese leier wat sy man teen Stalin kon staan.

Vir Yugoslavia was die Koue Oorlog 'n jol: Tito het aan altwee kante van die draad gespeel, die "Non-Aligned Movement" met Indië begin en hulp ontvang deur die Westerse Marshall plan sowel as die Oos-blok COMECON.

Die ekonomie het vinnig gegroei en teen die middel 60s het Yugoslavia sy grense ten volle oopgestel vir besoekers en sy eie bevolking toegelaat om wêreld wyd te rys.

Dit alles en vryheid, gelykheid en broederskap.

Soos Nelson Mandela het Tito wêreldwye respek afgedwing - celebrities het tougestaan om saam met hom op fotos poseer; staatsleiers om eer aan hom te toon.

In Junie 1972 het hy die "Order of Lenin" in Moscow gekry en drie maande later "Most Honourable Order of the Bath" van Koningin Elizabeth II. So het dit gegaan.

Maar met sy heengaan het alles verander.

Yugoslavia was nooit 'n demokrasie nie: Tito was die "goeie diktator" wat almal wou hê. Maar sonder hom het spanning tussen Yugoslavia se nasies vinnig oorgekook en die land het in die 90s disintegreer in 'n spasma van bloedvergieting waarin meer as 150,000 mense gesterf het.

Die droom van Yugoslavia se reënboognasie het 'n nagmerrie geword - Europa se afgryse en skaamte.

Vandag bestaan daar nie meer 'n Yugoslavia nie - in sy plek staan Slovenia, Croatia, Serbia, Montenegro, Bosnia & Herzigovina, Kosovo en Macedonia.

In 1995, op die hoogtepunt van die bloedvergieting, het die Yugoslav filmmaker Emir Kusturica die fliek "Underground" gemaak. [Meer as 20 jaar nadat die land verdwyn het noem Kusturica homself nogsteeds, hardkoppig, 'n "Yugoslaaf"]

Dit is 'n lang surrealistiese verhaal van twee vriende deur die verloop van Yugoslavia se geskiedenis, van WW2 tot die einde - swart, bitter komedie.

Die bekendste lyn daarin is

'n Oorlog is nie 'n oorlog totdat 'n broer 'n broer vermoor nie.

In die heel laaste toneel, draai die laaste karakter na die kamera en sê vir die gehoor:

Hier bou ons nuwe huise met rooi dakke 
en skoorstene waar ooievaars sal nes. 
Met wyd oop deure vir liewe gaste. 

Ons sal die grond bedank vir ons voeding 
en die son vir ons verhitting.
en die velde van groen gras 
wat aan ons land herinner.

Met pyn, hartseer en vreugde, 
sal ons ons land onthou,
wanneer ons vir ons kinders stories vertel
wat soos sprokies begin:

Eendag, lank lank gelede, was daar 'n land ...