Vrydag, April 27, 2012

Koos du Plessis



As die reen van stof en roet verby is
En die rook verdwyn
Sal daar in die sterrelose hemel
'n neon boog verskyn


As 'n kind het ek Laurika Rauch hierdie lied sien sing in Katinka se TV reeks "Phoenix & Kie". Dit was die eerste versreel van "Sprokie vir 'n Stadskind". Die woorde het my hoendervleis gegee.

Koos du Plessis is die absolute verwesenliking van die mag van poësie. Daar is niemand soos hy in Afrikaans nie - sy versreels is alles dieselfde: kort, digte, ritmiese frases en streng rym op rym.

En tog, in hierdie onmoontlike eenvoudige vorm bereik hy ongelooflike digkuns - terselfdertyd kristal helder en met kragtige emosie gelaai

Weerlose, weerlose mense
Op reis van perron na perron


I mean, hoe kan jy daarop verbeter?

Neem sy liedjie "Molberge", oor die myndorp Springs

Jou naam is in verlore ou fonteine
En towerbeelde van oases langs die pad
Maar ver al wys die torings van die myne
Jou skoonheid lê veel dieper in die hart
En ek onthou
Op 'n manier was daar maar net dieselfde vrede
Die neig mos om te woon net waar dit wil


"Die neig mos om te woon net waar dit wil" - geluk en vrede leef net waar dit wil - tussen mynhope en asblikke. Amazing.

Die Liedjie "Reg en Verkeerd" is 'n seun wat vir sy pa vra wat geword het van reg en verkeerd, alles lyk so wreed en verkeerd.

Maar eendag word honger gestil 
Sal die bloed eindlik stol
Kom die saak op die rol
Sê vir hom: eendag sal kom
(Reg en Verkeerd)

ander frases en verse wat my aangryp...


Jy hoor my nie meer nie
Ek sê maar totsiens
Ek groet sonder woorde
Want hartseer is stom
(Groet sonder woorde)


As daar geen een is
Sit jy als op die skaal
(As almal ver is)


Elke hektaar is verkoop
Elke opstal is gesloop
En die wereld wag verwese
in die waan
Dat 'n wonder gaan gebeur
Om sy rusperleer te keer
Want kyk daar lê reeds spore op die maan
(Spore op die maan)


Ons beplan toringblokke
Maar die slopers is betrokke
(Skadus teen die muur)


Want ons is nog jonk
En die wereld is oud
En voor ons het almal gevaal
(As jy my kon volg)


Ek soek vergeefs na lank vermiste mense
Wat om my is - maar onbereikbaar ver -
Die jare skif soos newels voor die lense
En die hart verloor maar mettertyd die spoor
(Vermiste mense)


Daars te veel met die wereld gevoeter
Daars te veel met die mense gemors
En die helde, na al die geploeter,
Lê diep in die aarde se kors
(Kouevuur)


Na nagte by die kranse in die reen
Het 'n siel gesterf wat kind was
Maar op sy manier 'n man
En daarna was die berge weer alleen
(Jantjie van die berge)


Almal slaap reeds, niemand waak nie
Niemand wil 'n tyd verwyl nie
Niemand lag nie, niemand huil nie
Net die nagwind en die reen
(Nokturne)


Deur die glasie se steel
Lyk die wereld weer heel
(Hier's ons almal tesaam)


En ek weet geen een sal my glo nie
Dit klink alles so gek in die nag
Maar wees elkeen wat lag
Eenmaal daar in die nag
Op die pad na Nooitgedaght
(Die Pad na Nooitgedacht)

Maandag, April 16, 2012

The Open Society and Its Enemies


Albert Einstein het in 1915 met die algemene relatiwiteitsteorie te voorskyn gekom: dat die 4 dimensies van tydruimte "buig" in die teenwoordigheid van swaartekrag.

Die hele ding het 'n obskure teorie gebly tot die sonsverduistering van 29 Mei 1919. 

Sir Arthur Eddington het gereis na die eiland Principe, van waar die hele son vir 6 kosbare minute agter die maan sou verdwyn en die hemel verdonker.

In hierdie paar minute kon Eddison die posisie van die sterre agter die son fotografeer en Einstein se voorspelling bevestig dat lig-bane buig wanneer dit verby die son se swaartekrag beweeg.

Die nuus was 'n sensasie en het Einstein oornag 'n superster gemaak.

Daar was ook 'n heel ander oomblik-van-insig uit die hele Eddison ekspidisie: die jong Karl Popper, wat die nuus met oorgang gevolg het, het skielik besef dat verkeerdbewysbaarheid (falsifiability) aan die hart van wetenskap lê.

In sy boek "The Logic of Scientific Discovery" het Popper geskryf dat wetenskaplikes nie behoort te soek vir getuienis wat hul teoriee staaf nie, maar juis vir getuienis wat hul teoriee verkeerd kan bewys.

Dit is hierdie bereidheid om 'n teorie aan 'n publieke toets te onderwerp wat dit wetenskap maak.

In die vroeë 20ste eeu was omtrent alles "wetenskap" - nuwe dinge soos Freud se psigoanalise, volkekunde, staatsleer en ekonomie. Maar hoe sou mens die wetenskap van die pseudo-wetenskap onderskei?

Popper het die voorbeeld van psigoanalise geneem as 'n vakgebied wat hulle in geen vorm aan 'n toets wou onderwerp nie. Freud se teorie oor drome was dat dit die onderbewuste se wensvervulling was.

Wat dan van nagmerries? 

In die "Interpretation of Dreams" erken Freud vroeg al dat dit 'n klaarblyklike kontradiksie van sy teorie is (wie wil wens vir 'n nagmerrie?), maar stel die bespreking daarvan telkens uit, tot aan die einde van die boek. Dan sê hy skielik dat "anxiety dreams" 'n anxiety probleem is, nie 'n droom-interpretasie probleem nie.

?

Daar is geen voorbeeld van menslike handeling wat vir Freud onverklaarbaar is nie. Alles kan op een of ander manier aan iets arbitrer en ontoetsbaar toegeskryf word. 

Of, wanneer dit jou pas: sometimes a cigar is just a cigar.

Maar Freud was small potatoes teen die groot pseudo-wetenskappe wat oppad was om die wereld te verswelg - Nazisme en Kommunisme.

Popper het "The Open Society and Its Enemies" tydens die 2de Wereldoorlog, in wanhoop geskryf. 

Daarin probeer hy ontrafel hoe die mensdom so verstrik geraak het in sulke verkeerde en vernietigende ideologiee.

Die boek is 'n woedende aanval op drie van die groot Westerste filosowe: die eerste deel van die boek hanteer Plato en die tweede deel Hegel en Marx.

Ek het hierdie boek 25 jaar gelede, heel toevallig, uit 'n boekrak in die Universiteitsbiblioteek getrek, begin lees, en ek moet erken: dit was een van die belangrikste en blywende boeke wat ek ooit gelees het.

Popper stel die vraag - wat beteken die geskiedenis? Wat kan ons leer uit die geskiedenis?

Sy argument is - Plato het vir die wereld die oorspronklike mite geskep dat 'n groep mense (bv die Afrikaners, Black Consciousness, wat ook al) 'n oorsprong, 'n roeping en 'n gesamentlike lot deel. Hierdie oorsprong en lot word gesoek en gevind deur die studie van die werking van geskiedenis.

Daarmee saam het Plato, in sy Republiek, die eerste Utopia daargestel: hoe behoort die perfekte republiek ge-organiseer te word, en wie moet regeer?

Plato sê "die filosoof koning" (hint - ek). Marx sê "die proletariaat".

Popper sê "Wie moet regeer?" is die verkeerde vraag. Die regte vraag is "Hoe kan ons misregering beheer en tot 'n minimum hou?".

Die probleem is dat, wanneer die Utopiese projek eers gevorm is (bv Nazisme, Kommunisme), geskiedenis, net soos Freud se psigo-analise, misbruik word om die program te pas, en niks (geen historiese of eietydse feit) die voor-opgestelde teorie kan contradict nie.

Die vraag is nie "Hoe moet die wereld lyk nie?", maar "Dis soos die wereld vandag lyk - hoe kan ons dit 'n bietjie beter maak?".

Popper noem dit "piecemeal social engineering" eerder as "utopian social engineering".

Net soos wat wetenskap vorder deur "trial and error" - probeer en leer - so stel Popper voor moet ons die samelewing verbeter - deur te probeer en te leer.

Aanvaar dat ons NIE weet hoe die wereld ten volle werk nie, en aanvaar dat geskiedenis geen ingeboude rigting neem nie. Probeer klein eksperimente in die geleidelike verbetering van die wereld se lot. As dit werk - wonderlik. Maar miskien werk dit nie, miskien is daar gevolge waaraan niemand kon dink nie. Dan probeer ons weer, met iets anders.

Popper het geglo dat niks te klein is om te probeer nie. Kommuniste het veel gemaak van die feit dat feitlik alle Amerikaanse kongreslede miljoeners is - demokrasie in Amerika is 'n rykmans sport. Popper sê - "Ja, maar doen iets klein en konkreet daaraan - stel 'n beperking op die hoeveelheid geld wat in kampanjes gebruik kan word". Dit werk nie, probeer die volgende ding.

Maar moet nooit ophou nie. En moet nooit sê - net die rewolusie sal eendag alles regstel nie. Want dit sal nie.

Dit is die pleidooi vir die "Oop Samelewing" - nie 'n kapitalistiese of sosialistiese samelewing nie, maar 'n samelewing wat tolerant is omdat dit begin met die vertrekpunt dat ons NIE die antwoorde het nie. Dat wat vandag werk miskien nie more sal werk nie.

En - dat geskiedenis GEEN BETEKENIS het nie. Geskiedenis is nie onafwendbaar nie; nie besig om ons "in 'n rigting te forseer nie", maak nie saak hoe veel dit so voel nie. Daar is geen lot wat vir ons wag nie. Geskiedenis is net die som totaal van miljoene indiwiduele dade.

Tolstoy, in "War and Peace", noem die voorbeeld van die peasant wat deur die Franse generaal geklap is toe hy te stadig was om te antwoord oor die pad wat die Franse weermag moes volg. In stille woede het hy die lang pad vir die Franse verduidelik, en daarmee net so 'n belangrike deel aan die geskiedenis van Europa gehad as Napoleon of die Tzar.

Daar was in Popper se tyd 'n wye gevoel dat demokrasie 'n onmoontlik idiaal is omdat dit tolerant moet wees teenoor intolerante dinge, wat dit van binne sal vernietig. Popper het hierdie vrees erken, maar geglo (en hy sê dit in die boek) dat die drang na vryheid en oopheid ook, soos 'n kanker binne tyranniee bly bestaan, en altyd sal bly uitbars.

Ek het Open Society in 1985 gelees - die jaar van Suid Afrika se eerste noodtoestand - en gewonder...

En tien jaar later was die wereld onderstebo: Nelson Mandela die President van Suid Afrika, en Kommunisme verby.

Sondag, April 08, 2012

Babbel en Rooiland

Ek het Rooiland en Babbel Dinsdagaand, direk na mekaar op Oudtshoorn by die KKNK gesien.

Rooiland was eerste. Toe dit klaar was het ek gedink - brrrrrr, laat ons hier uitkom, soos weg van die toneel van 'n moord of 'n groot ongeluk.

Toe ons opstaan na Babbel, het ek net een gedagte gehad: totale snert.

Ek het oor die loop van die volgende dae gedink oor die twee vertonings, en wat my ervaring so verskillend gemaak het.

Rooiland is 'n tronk storie - vier akteurs wat hulle ding doen op 'n vierkantige blok net mooi groot genoeg om hulle in toe te sluit - die denkbeeldige sel waarin hulle gehou word.

Daar was 'n klein monitor op die grond voor die sel wat 'n TV stel in die hoek van die kamer kon wees, met klanklose beelde. Waar ek gesit het kon ek kwalik sien wat daarop aangaan. 

Die groot sukses van Rooiland is in die dringendheid van hierdie vier akteurs. Jy kan voel hoedat elkeen onmiddelik aan die werk spring om 'n karakter te vestig en sy kollegas 'n hand gee om hulle eie karakter grense te trek. 

Dit word gedoen met 'n sense of purpose, want nou nou kom die klimaks en teen daai tyd moet die gehoor verstaan wat op die spel is. Halfpad deur Rooiland is die karakters op 'n rol en situasies waardeur hulle gaan begin seer maak, omdat jy omgee vir hulle.

Babbel, daarenteen, speel af in die buitelug, teen die hele horison wat toorn bo-oor Oudshoorn. Ons het dit gesien met sonsondergang - daar is duidelik groot werk gemaak aan die gevoel van Godeskemering.

'n Groot stuk grond is omgeskoffel en die akteurs het vryheid om te verskyn en verdwyn oor 'n area veel groter as selfs die grootste binneshuise verhoog.

Anders as Rooiland is die hele produksie hoogs gestileer, asof vir 'n comic book. Rooliand het geen kostuums nie, maar Babbel lyk soos Halloween:  - sexy nurse, soldate, bloedrooi robes met 'n Moslem/Jood ontwerp wat sy aan sy pas soos 'n jigsaw puzzle.

Maar niks gebeur tussen die akteurs nie - die dialoog is meestal een karakter wat 'n ander stilmaak met "shut up, wat weet jy elkgeval?".

Waaroor het Babbel gegaan? Iets van 'n oorlog, 'n dooie diktator wie se kop nog praat, "tonge", wat soos Diana Ross arms na die hemel gooi en babbel deur hul trane. Twee broers wat dooie kamerade se name probeer onthou. 'n Dr. Strangelove-agtige verlamde kolonel.

Snert.

Daar is halfhartige pot-shots wat 'n moral highground probeer skep uit ek weet nie wat nie: die horrors van oorlog en korrupsie en sensuur (Julian Assange se sluipmoord word aangekondig), als pynlik oud.

Ek weet nie hoeveel keer Rooiland al opgevoer is nie, maar wanneer die klimaks kom - die verkragting van een karakter deur die ander - dan is dit for real, my broer. Daai twee veg en spartel en skreeu asof dit blou moord is. En hulle verkrag totdat hulle verkrag het.

In Babbel - met al die gerol in die stof - die akteurs raak nooit eers aan mekaar nie!. Babbel is horror sonder dat dit seermaak. Dit het geen klimaks nie, net 'n oomblik wanneer die hele cast in een slag hulle derms uitryg, omval en uitpass.

Kort na die begin van Babbel lig iemand 'n emmer op en onder dit is daar 'n lewende kop in die grond. Dis net hierdie een arme sot met wie se lot ek kon vereenselwig.

Ek het tot die einde gehoop dat iets gaan gebeur, maar stadig maar seker word dit duidelik dat al die ander karakters in Babbel afkop hoenders is: almal skarrel rond sonder rede, praat vir die gehoor eerder as met mekaar, almal moet iets uitkry voor die groot omval.

'n Kop en sewe af-koppe.

Donderdag, April 05, 2012

die ysterkoei moet sweet


Ek kom nou net van die kknk af, my eerste in 8 jaar. Dit het my geinspireer om uiteindelik weer iets te lees waaroor dit die moeite werd is om te skryf. Breyten se saamgebundelde "Ysterkoei Blues", die gedigte tot en met hy tronk toe is in 1975.

Die eerste bundel daaruit, in 1964, was "die ysterkoei moet sweet".

Wat het Verwoerd-era Suid Afrika van hierdie bundel gemaak, wonder ek?

Dit het 'n freaky voorblad van 'n bul met 'n derde oog en 'n onverstaanbare titel. 

En tog

Daar is geen vloekwoorde in ysterkoei nie, geen politiek (behalwe een vae gedig oor die Vietnam oorlog) en geen godsdiens in die gewone sin van die woord nie. Insoverre dit seks aangaan is daar niks eksplisiet en sekerlik niks meer gewaagd as NP van wyk Louw en vele ander Afrikaanse digters voor breyten nie.

In die oorspronklike uitgawe is ysterkoei se opdrag

vir my vriende in tronke met tande

Die nuwe versameling bevat nie meer hierdie opdrag nie. Die hele ding word net opgedra aan breyten se Vietnamese vrou, Hoang Lien.

Dit bestaan uit drie dele

die maer man met die groen trui
kopatlas
die mond is te geheim om pyn nie te voel nie

"die maer man met die groen trui" is breyten se classic beskrywing van homself.

Die gedigte is alles oor 
  • hoe wonderlik hierdie oomblik is, en
  • vrees vir die onafwendbare einde daarvan
Die klassieke, skitterende breyten is die digter van die oomblik-waarin-jy-is. Een na die ander val die gedigte dan om en stort hulle binnegoed uit. Dis jammer, maar dit is seker maar die yin en die yang van dit alles - hierdie oomblik is so kosbaar omdat dit so vervlietend is.

Dis verstommend, keer na keer, hoe hy hier "oomblik" verwoord.

gelukkig soos 'n dag langs die see in die son
geen ambisies meer nie
afskeid en ontmoet is om't ewe
24 jaar oud en gesond en tevrede ek eet
en ek slaap en my vrou kry orgasmes

maar dan kom "die verval van lyf en drome"

breyten is ontsettend bewus van sy lewende liggaam, sy gesondheid en hoe dit een is met sy drome en gemoedsgees. (dit van 'n outjie in sy vroee 20s)

twee gewasse het my breinbol voortgebring
een is vrees vir alles twee is lus om te bly leef

Die twee egos in hierdie deel van die boek is die gesonde happy breyten, gevolg deur verskrikte-breyten & klein mini-horror stories van vernietiging

Dan kom die gekheid soos 'n gewapende man, eensklaps
en die mure runnik, die stoele grom
die burgers het hol deurskynende koppe, vuurtorings van glas
die honde dra brille, klanke word vlermuise 
...

Dis maklik om te sê "relax dude", maar dis hierdie vrees wat die digter instaat stel tot die pragtige visies van goedheid in die allerdaagse.

Daar is 'n gedig opgedra aan die skrywer Rober Walser, wat 27 jaar, tot sy dood, vrywillig in 'n malhuis gewoon het.

waar skuifelende mensdinge die neusgate
uithol op soek na siele met hoede
                             of die
lekkerkry van bloed

siele met hoede - how cool is that! Malmense opsoek na Gewone mense - die wat aanhou probeer en die klere van beskawing dra.

Een van my gunsteling gedigte is verslag. Dit gaan oor die inneem van alles, en die wete dat al die mooi uiteindelik vergeet sal word.

ek het hane hoor kraai en
die roep van treine en stemme in my
bed en gode op die dak en ek het
drake gesien in dieretuine en die baarde
van vriende en ek het die son geruik.
sneeu in die winter en druiwe in die somer
maar ek onthou nie meer veel daarvan nie
....

kopatlas. ek weet nie eintlik wat om hiervan te maak nie. Dis die breyten wat metafore na metafore uitryg, maar sonder die erns om iets dringends te sê.

Ek dink dit gaan oor refleksie en meditasie, maar ek stel nie regtig belang in sy kop se binnegoed nie.

Daar is twee pragtige, eenvoudige gedigte oor die boeddha en nirvana en mooi beelde oor stilte en nag ("wanneer slegs die horlosies leef"), andersins het dit my verby gegaan.

die mond is te geheim om pyn nie te voel nie. Hier is die ander groot breyten - die skrywer van liefdesgedigte. Hier is al die inspirasie weer terug, nou dat dit in diens van iets staan.

vir jou offer ek hierdie hande vol lug. neem
eet        drink       leef

Daar is die skitterende gedig ek wag in my hart, oor verlange

ek luister asemloos vir jou voeteval
(waar dool jy tussen skaterende wolwe)

en pragtige beelde, oral, van liefde en heiligheid

o geliefde, 
trek jou skoene van jou voete af want jy staan
op heilige grond

en

maak toe jou oe
maak oop jou oe
die aarde draai so stadig

'n Paar jaar terug het ek NP van wyk Louw se gedigte gelees en was heeltyd geirriteer deur die herhaling van dieselfde woorde oor en oor - God, skoon, diep, vreugde, sin, ens ens. Ek onthou dat ek gedink het "dank vader vir breyten", wat 'n einde aan dit alles gesit het.

Maar nou besef ek - hy het nie regtig nie. breyten self herwin sy woorde en beelde oor en oor - vrugte en bloeisels en bome, son, voels, bloed, nag. Maar dis anders - dis die mens en die aarde. God is nie hier teenwoordig nie, dat pyn bestaan is onnodig, Heer, daar is feitlik geen moraliteit nie, net: geniet die oomblik en die liefde, want dis kort en kosbaar.