Woensdag, Junie 29, 2005

Wit Nagte

"White Nights" is een van Dostoyevsky se bekendste verhale - dis al 'n paar keer verfilm - 'n eenvoudige, intens-roerende situasie.

Twee vreemdelinge - 'n man en 'n vrou, kruis dieselfde straat op dieselfde oomblik, laat in die nag, in die bitter koue, van weerskante.

In die paar tree oor die straat verbeel die man 'n lewe saam met haar, die mooi vreemdeling met al die misterie en belofte van die wereld - wat hy nooit sal ken nie. So naby en tog so ver.

En dan - 'n wonderwerk. Agter sy rug, op die sypaadjie, word sy deur 'n boemelaar lastig geval - en kry hy die kans om terug te draai, haar te red en te ontmoet.

Nadat hy haar vir 'n blok of twee vergesel, spreek hulle af om die volgende aand weer op dieselfde tyd, selfde plek verby te stap.

En so, vir die volgende paar nagte ontmoet die twee mekaar by dieselfde bankie, in die sneeu onder die sterre, en vertel vir mekaar hul lewensverhale - beide ongelukkig en alleen, beide sukkelende huurders by familielede - haar ouma en sy ma.

En om 'n lang storie kort te maak: 'n week later is dit alles verby. Sonder dat die man dit vermoed, sit die meisie op hierdie bankie vir iemand anders en wag (dis 'n bankie oorkant haar ex se woonstelblok).

Haar liefling verskyn uiteindelik - en die man en vrou is onmiddelik weer vreemdelinge vir mekaar.

Hulle sien mekaar nooit weer nie, maar, soos die verteller in die laaste woorde sê:

"My God, a whole moment of happiness! is that too little for the whole of a man's life?"

[29 June 2005]

Sondag, Junie 26, 2005

Arm mense

Twee bejaarde, arm mense in St Petersburg sien mekaar een of twee keer per maand, andersins skryf hulle briewe aan mekaar.

"Arm mense" is hierdie korrespondensie.

Hy (Makar) spandeer elke ekstra sent aan klein, nietige persente wat hy vir haar (Barbara) koop en saam met sy briewe stuur.

Sy stuur die persente terug en smeek hom om eerder geld bymekaar te maak vir nuwe klere, sodat hy 'n beter indruk by sy werk en met sy baas kan maak.

Hulle skryf oor die lewe wat verby is, jonkwees, die sterwe van hul ouers. Nie een van die twee is ooit getroud nie.

Rondom hulle sterf meer en meer kennisse, die wereld word al hoe kleiner.

Makar sak in die skuld maar praat nie daaroor nie; dan vermy hy haar eerder. Uiteindelik stuur Barbara dertig roubles vir sy landlady wanneer sy dreig om hom uit te sit.

Barbara word geteister deur mans wie sy nie in die gesig kan kyk nie. Makar is haar enigste veilige uitlaatklep.

En dan eendag, die verstommende nuus: sy het 'n huweliksaanbod van een van haar suitors gekry, 'n welaf sakeman wat haar uit St Petersburg wil neem.

Sy het besluit om te aanvaar.

Makar is stomgeslaan maar bly ondersteunend. In die laaste briewe verander hulle toon: sy stuur lang stelle instruksies vir haar troue (waarvoor Makar die reelings tref); hy verseker haar dat hy alles noukeurig uitvoer en alles op skedule is.

Hy skryf vir haar dat hy die nuwe huurder van haar ou kamertjie is, nadat sy uitgetrek het na haar verloofde toe.

Dit was 'n fout: in die volgende brief stel sy hom in kennis - met opregte spyt - dat haar man van plan verander en nie meer in St Petersburg wil trou nie, maar eerder by hul nuwe huis in die country.

Uiteindelik, wanneer hy dit hoor, breek Makar se hart - hy smeek haar vir die eerste keer om nie te trou nie,  om saam met hom te bly tot die einde.

Sy antwoord nooit.

[26 Junie 2005]

Vrydag, Junie 24, 2005

Oedipus

Sophocles se "Oedipus Rex" - seker die beroemdste van alle dramas, en met goeie rede - 'n perfekte kunswerk.

Die koning van Thebes besoek 'n blinde profeet - Teiresias - wanneer sy vrou swanger word en hoor tot sy skok dat die kind binne haar bestem is om hom te vermoor.

Met die geboorte gee hy die baba vir sy dienskneg en vra dat hy die kind onmiddelik van kant maak. Die dienskneg kry dit nie oor sy hart nie - hy neem die kind na 'n vriend wat hom vertel het van 'n arm kinderlose paartjie. Die koningin - Jocasta - glo dat haar kind met geboorte gesterf het.

Hierdie baba is Oedipus, hy word in 'n nederige huis grootgemaak deur aangenome ouers.

Baie jare later, as 'n jong man, vind Oedipus homself in 'n dronkespul in 'n kroeg, waneer iemand skielik vir hom sê: "Het iemand al vir jou vertel dat jy 'n aangenome kind is?"

Oedipus konfronteer sy ouers, hulle ontken dit ten sterkste, maar hul reaksies veroorsaak verdere twyfel in sy gemoed, en hy besluit om na die profeet Teiresias te gaan om die waarheid te hoor.

Sy ontmoeting met Teiresias is 'n fiasko - die blinde man skreeu op hom as 'n onnatuurlike, afgryslike mismaaksel wat jou sy vader sal vermoor!

Oedipus is so ontsenu hierdeur dat hy besluit om nooit weer na sy ouers terug te keer nie, uit vrees dat hy hulle geweld sal aandoen.

Vir jare swerf hy alleen.

Dan eendag - by die plek waar drie paaie kruis - weier hy om toe te gee vir die entourage van 'n ryk reisiger, hy word deur die koetsman met 'n sweep geslaan, verloor sy humeur, vermoor eers die koetsman en uiteindelik die passasier binne die koets.

Uiteindelik kom hy in die stad Thebes, waar hy hoor dat die koning verdwyn het en die man wat die raaisel van die Sphinx kan oplos die nuwe koning sal word.

Oedipus is suksesvol en word die nuwe koning van Thebes, met Jocasta as sy koningin.

En dan, skielik, kom 'n verskriklik plaag oor die stad. Na alles moontlik probeer is stuur Oedipus 'n boodskap na die Orakel by Delphi. Die boodskapper kom terug met die nuus dat die pes oor die stad sal bly totdat die moordernaar van die vorige koning gevind en uit die stad verban is.

Oedipus is gretig om hieraan bevel te gee - hy voer persoonlik die ondersoek om die skuldige man te vind.

Hierdie ondersoek lei hom terug na Teresias - wat hom waarsku dat hy nie die waarheid "wil weet nie". Oedipus beur hardkoppig voort. Uiteindelik vind en ontbied hy die enigste oorlewende ooggetuie van die koning se moord - sy dienskneg, wat in die jare daarna 'n skaapwagter geword het.

Wanneer die skaapwagter vir hom vertel dat die moord gebeur het "by die plek waar drie paaie kruis" val daar 'n yskoue skaduwee oor Oedipus se siel.

Van hierdie oomblik af smeek almal, veral Jocasta, hom om op te hou met sy ondervraging, los dit net alles.

Maar Oedipus is in 'n frenzy: EK MOET WEET WIE EK IS!

Uiteindelik, wanneer hy alles besef - die profesie, sy aanneming, hyself is die koning (sy pa) se moordenaar, getroud met sy eie ma, die oorsaak van sy stad se vloek - neem hy 'n mes en steek sy oë uit, sy oë wat altyd blind was, groet sy kinders vir oulaas en dwaal weg in die vreemde.

Dinsdag, Junie 21, 2005

Vita Nuova

"Nine times already since my birth the heaven of light had almost revolved to the self-same point when my mind’s glorious lady first appeared to my eyes, she who was called by many Beatrice (‘she who confers blessing’), by those who did not know what it meant to so name her."

Ek het tevore al geskryf oor die nege-jaar oue seuntjie Dante se lewenslange obsessie met die meisie Beatrice, in die inskrywing oor die Divine Comedy.

Dante het die verhaal self vertel in die bundel "Vita Nuova" - "Nuwe Lewe". Vita Nuova is 'n versameling van sy Italiaanse gedigte wat Dante met groot sorg geredigeer en in detail, een vir een, lyn vir lyn verduidelik het.

Die boek het sy ontstaan te danke aan 'n nagmerrie waarin hy droom dat Liefde, in die gedaan van 'n jong man, sy hart uitskeur en vir Beatrice voer, stukkie vir stukkie.

[Hierdie eerste sonnet "To every captive soul and gentle heart", is die een wat Hannibal Lecter aan die Commendatore se vrou voordra in "Hannibal"]

Dit was 'n ander wereld - die middel van die middeleeue - die 1200s. Die heelal het om die aarde gedraai, Dante praat met homself in 'n nuwe taal - Italiaans - maar sy sinne verskyn aan hom as mense: Liefde, Wysheid, Dood, en praat terug in Latyn.

Hy het Beatrice net 'n paar keer in sy lewe gesien. Elke keer was hy heeltemal oorkom in haar teenwoordigheid, en kon geen sinvolle gesprek voer nie.

In magtelose frustrasie het hy gesien hoedat sy vir hom "verlore raak", trou en op vroeë ouderdom (24 j) sterf (op 'n manier waarvan hy nooit iets sê nie).

Daarna sy jare van eensaamheid en refleksie, dae van euforie aan haar gedagte, dae van afswering.

Later, in sy wandelings, sien hy herhaaldelik 'n vrou in 'n venster. Die laaste gedigte word aan haar - die "vrou in die venster" - gerig. Sy word simbolies beskou as FILOSOFIE, die muse waaraan Dante sy volgende twee dekades na Beatrice se dood gewy het - sy NUWE LEWE.

Die vrug van hierdie nuwe lewe was sy massiewe epos - The Divine Comedy - sy reis deur Hel, Vagevuur en die Hemel, om uiteindelik met Beatrice herenig te word.

Maandag, Junie 20, 2005

Die Adolesent

Tolstoy en Dostoyevsky het die reputasie van die "Russian doorstopper" geskep: die lang, massiewe kroniek van 'n menigde karakters in 'n komplekse wereld - swaar genoeg om jou deur mee oop te hou wanneer die wind opsteek.

Daar's baie parallelle tussen hierdie twee tydgenote en reuse, maar in visie, in toon en styl verskil hulle soos dag en nag.

Tolstoy praat in die stem van God oor 'n wereld waar mense soos miere krioel, daar ver, besig en bang, maar blind vir die groot geheel.

Dostoyevsky praat van daaronder, in die stem van die sondaar, die verlore siel, sonder 'n wereldeenheid, sonder 'n antwoord.

Die "Russian doorstoppers" is [Tolstoy] "War and Peace", "Anna Karenina" en "Resurrection" en [Dostoyevsky] "The House of the Dead", "Crime and Punishment", "The Idiot", "The Possessed", "A Raw Youth" en "The Brothers Karamazov". Daar was baie ander Russiese skrywers, maar hierdie twee was in 'n klas alleen.

Dostoyevsky het "A Raw Youth" of "The Adolescent" geskryf as 'n ryp ou man, tussen twee van die grootste boeke van alle tye: "Die Besetenes" en "Die Broers Karamazov".

Die storie word vertel deur die baster, onerkende jong seun van 'n aristokraat (met 'n reuse chip op sy skouer). Deur n stukkie geluk kry hy sy hande gelê op 'n brief deur een van sy royal familielede - Katarina, die dogter van 'n Prins, waarin sy skryf aan 'n dokter in Moskou oor die moontlikheid om haar vader seniel te verklaar, op te neem en sy estate oor te neem.

Gewapen met hierdie brief (vasgewerk binne sy jas) vertrek hy om sy familie en sy pa (haar lover) te konfronteer en moontlik af te pers.

Die wiele van die verhaal draai stadig, ongestoord, met 'n groot stel karakters. "Raw Youth" is die tipiese Dostoyevsky-sop van ryp en rou bestandele, stories binne stories, maar hier sonder 'n fundamentele dryfkrag - geen smagting na geloof en God, vergifnis, vrede en moraliteit, wat oral in sy boeke voorkom. Daarom te meer voel dit arbitrer.

Die hoogtepunt vir my was die hartverskeurende storie van 'n ryk sakeman wat per abuis van sy voete gestamp word deur 'n arm seuntjie. Hy laat sy henchmen die kind "'n les leer", hulle slaan hom flou, maar skrik hulle boeglam wanneer die kind by die dood omdraai.

Maande later, sonder verwysing na die insident, bied hy aan om die seun te huisves sodat hy 'n behoorlike opvoeding kan kry. In sy hart wag hy (die miljoener) vir die geleendheid om met die kind te praat oor wat gebeur het, om jammer te sê, maar eers wil hy sy respek wen.

Maar die oomblik wil nie kom nie, die kind bly in vrees leef en praat nie met hom nie. Dan, een dag wanneer sy irritasie besonder hoog is, breek die seuntjie 'n kosbare vaas en wanneer hy die woedende stem hoor hardloop hy die huis uit, spring in die rivier langsaan en verdrink.

Die ou man sit dag na dag en maal sy kop. Uiteindelik, vir sy eie terapie, ontbied hy 'n skilder om dit alles vir hom te verf: sy huis, sy landgoed, hyself in woede agter die kind aan, die rivier, die mense, die seun in die water, arms gekruis oor sy bors, gesig na die hemel, en die Engele van God wat hom kom haal.

Dostoyevsky was daardie skilder van hartseer oomblikke, van "the insulted and the injured".

Woensdag, Junie 08, 2005

Hoeveel land het 'n mens nodig?

Nog een van die classic Tolstoy verhale.

Pakhom is 'n peasant in Tsarist Rusland - hy droom die byna onmoontlike: om 'n grondeienaar te word.

Deur harde werk, besparing en onderneming kry hy uiteindelik dit reg om - saam met al die ander peasants - 'n stuk landgoed uit die estate van 'n oorlede aristokraat te koop.

Maar die gesamentlike eienaarskap word 'n frustrasie. Sy kommune skort visie en beperk sy moontlikhede; die alewige konsensus-soek lei tot niks en bring Pakhom op slegte voet met res.

Dan eendag ontmoet hy 'n vreemdeling in die dorp wat hom vertel van 'n wereld, ver oos, waar vrugbare grond goedkoop en volop is. Pakhom gaan check dit onmiddelik uit en vind dat hy VEEL BETER kan doen deur sy aandeel in die ou arrangement te verkoop en hier te belê VIR HOMSELF alleen.

So gesê, so gemaak.

Nou, uiteindelik, besit hy sy eie grond. Klein, maar syne.

Na 'n paar jaar besef Pakhom die beperkings van sy plaas. Sy grond is ten volle benut, maar sy bure (veel flouer boere as hy) veroorsaak skade deur swak waterlyding en swak heinings - diere dwaal oor sy grond en vertrap sy kosbare oes. Uiteindelik groei sy frustrasie weer, totdat hy eendag met 'n swerwende smous gesels.

Die smous vertel hom van 'n wereld - nog verder oos - waar vrugbare, kosbare grond VERNIET is! Die plaaslike inwoners gee dit weg vir trinkets: koperkrale, spieëls, warm tee, siedaar!

Pakhom laat nie op hom wag nie - daar gekom lyk alles net soos dit belowe is - die grond lyk wonderlik, die plaaslike inwoners geweldig vriendelik en nooi hom na hulle leier.

Die ou Chief bied aan dat Pakhom by hulle bly, maar Pakhom dring daarop aan 1) dat hy sy EIE stuk grond met 'n duidelike grenslyn kry, 2) dat hulle 'n kontrak teken wat dit erken, en 3) dat hy hulle betaal daarvoor.

Daarop sê die Chief:

"Hoeveel geld het jy?"

"4,000 roubles"

"Vir 4,000 roubles kan jy vir een dag stap - van sonop tot sononder, vlae plant wat jou grenslyn sal vorm - en daars jou plaas. Die enigste voorwaarde is: waneer die son sak moet jy ons weer ontmoet by die beginpunt, anders verbeur jy alles"

Pakhom betaal dadelik die geld, skryf 'n kontrak, teken, die Chief maak sy kruis.

Daardie nag rol hy rond van opwinding en afwagting.

Laat in die nag hoor hy stemme lag iewers buite sy tent. Hy staan op, stap uit - sweer hy sien die vreemdeling in die dorp (die een wat hom oos gelok het) - dan sweer hy, nee: dis die smous, dan die Chief, dat sien hy die Duiwel - en skielik skrik hy wakker.

Net betyds, die son is amper op. Hy hardloop na die afgesproke heuwel, die Chief wag al vir hom.

Met sonbreek begin Pakhom stap, die oomblik is vir hom oorweldigend - die volbringing van sy lewensdroom, hy besef dat hierdie dag die res van sy lewe sal bepaal - vir hom en sy nageslagte.

Maar die temptasie is net te groot, hy sien te veel wonderlike valleie, riviere en beddings. En wanneer hy uiteindelik omdraai is die eindpunt BAIE VER. Hoe vinniger hy stap, hoe vinniger sak die son, en uiteindelik begin hy hardloop in paniek.

Wanneer hy die onderpunt van die laaste heuwel bereik is hy KNACKERED, maar die tribe en die Chief skreeu "KOM, KOM daars nog tyd, die son is amper onder!".

Hy kners op sy tande en begin die laaste, verskriklike klim teen die heuwel, tot bo, en duik na die eerste vlag op dieselfde oomblik wanneer die son se laaste strale verdwyn.

"Veels geluk" sê die Chief, "dis een MOERSE plaas wat jy vir jouself gewen het!"

Maar Pakhom lê op die grond, dood.

En die tribe het hom daar begrawe, in 'n graf - ses voet lank, van sy kop tot sy tone.

Saterdag, Junie 04, 2005

The Upside of Anger

Hollywood & TV kraam familiedramas in die duisendes uit - "Anger" dra die standaard, gryende familie-formaat konsepsie: een probleem per karakter - onderdruk, ontdek, krises, oorbegin, goeie voornemens.

En tog, ten spyte van hierdie onbelowende raamwerk bloei daar 'n PRAGTIGE movie, een van die lekkerstes wat ek in 'n lang tyd gesien het.

Skrywer/regisseur/akteur Mike Binder werk hard en kry dit reg om lewe te gee aan 'n stadig gebore baba - half deurdink, half geskryf, half geworkshop, half gespeel op stel - maar 'n lewendige, afgeronde skepping.

Wonderlike ontploffings van lag en huil, daai skaarse, ware ruk van die wind, die onverwagte kalmte, die stilheid waarin woede gedra word, die skielike omswaai van situasies en gevoelens.

Die vyf vrouens act hulle longe uit. 'n Anoreksiese, maer, besete Joan Allen is behoorlik uit haar vel uit oor hierdie spelkans.

As haar tussendeur boyfriend is Kevin Costner die een konstante valse noot, 'n totale mors van doekspasie. Waarskynlik daar as die starpower waaraan die produksie sy bestaan te danke het, maar Binder kan aan niks dink vir hom om te doen nie. Costner word net halfhartig by dinge betrek, hy kry geen kans vir grandstanding nie, te lui en te ongemotiveer vir die produksie - hy's totaal buite dit.

Andersins: volpunte, so te sê. 'n Fliek wat ek weer en weer sal kan sien.

Voorspelling: hou die naam Mike Binder oor die volgende paar jaar dop, hier kom 'n deeeng...

Woensdag, Junie 01, 2005

Die Loflied aan Demeter

In antieke Griekeland het hulle elke jaar die fees van Dionysus gehou - die maand waarin die groot Griekse dramas voor enorme skares gedoen is.

So 'n drama is voorafgegaan deur 'n hymn aan een van die Gode, 'n curtainraiser wat deur tyd sy eie lewe gekry het.

Daar was 'n standaard versameling hymns wat die ou Grieke aan Homerus toegeskryf het - "The Homeric Hymns".

Die roerendste een, vir my, is die Hymn aan Demeter.

Ek dink hieraan omdat my seuntjie nou die aand gesê het:

"Pa, weet jy waar kom blomme vandaan? Van pitte en grond"

Die Grieke het die lewenskrag wat pitte en grond in blomme verander aan die godin Demeter toegeskryf. Dit was sy wat lewe uit die aarde laat rys het. Die "Hymn aan Demeter" vertel die bekende storie hoe Hades, God van die Onderwereld, Demeter se dogter Persephone ontvoer het met 'n pragtige blom in die veld. Toe sy naderkom om dit te pluk het hy die aarde onder haar oopgeskeur, weer toegemaak en haar as sy vrou na sy doderyk geneem.

Demeter het vir maande lank haar dogter vergeefs geroep en gesoek, niemand kon haar help nie. Uiteindelik het 'n ou vrou vir haar vertel wat sy gesien het. Demeter het na Zeus gegaan maar tot haar uiterste skok gehoor dat Zeus kop-in-een-mis met sy broer Hades was.

Hierna word Demeter 'n hartseer swerwer in die gedaan van 'n ou vrou. By 'n waterput kry 'n vrou haar jammer en neem haar in diens as haar baba oppasser.

So begin Demeter haar liefde verplaas op die seuntjie Demophoon, wat sy in geheim in 'n God verander deur hom bedags ambrosia te voer en snags oor die Godelike vuur te lou.

Maar Demophoon se ma loer hulle af, en met afgryse neem sy haar seun terug en steek Demeter in die pad.

Na hierdie dubbele terugslag gaan sit Demeter en huil, en met haar trane begin die bome en plante van die wereld te sterf.

Uiteindelik, met die lewe van die mensdom op die spel stuur Zeus 'n boodskap aan Hades dat hy vir Persephone moet teruggee. Maar voor hy dit doen kry Hades dit reg om Persephone te trick om van die Onderwereld se kos te eet, waarna sy nooit weer daarsonder kan gaan nie.

En so het die ewige seisoene ontstaan: vir drie kwartale van die jaar woon Persephone by haar ma - en die blomme en bome bloei van vreugde (lente & somer).

Dan kom die tyd nader wanneer Persephone moet terugkeer na die Onderwereld, en Demeter se gemoed sak (herfs).

En wanneer Demeter weer alleen is treur sy, en die wereld word kaal (winter) tot die dag wanneer sy weer haar geliefde Persephone sien.

[1 Junie 2005]