Sondag, Maart 27, 2005

Master and Man

Net toe ek dag dat ek het elke groot meesterwerk v Tolstoy ken, ontdek ek nog een.

"Master and Man" vertel van 'n ryk hout-sakeman (Vasily) wat inderhaas 'n reis onderneem om 'n woud-landgoed in sy area vir 'n bargain te koop.

Hy neem 'n peasant (Nikita) saam op sy slee deur die sneeu, vir al die odd-jobs en die fisiese werk wat dalk nodig sal wees.

Tolstoy vertel van die non-verhouding tussen hierdie twee mense, hul aparte gedagtewerelde langs mekaar op hierdie fatale ses kilometer reis die nag in, waarin hulle drie keer verdwaal, hul pad weer vind, weer verdwaal en mekaar se mensheid eers raaksien in die laaste oomblikke voordat hulle saam verkluim in die sneeu.

Woensdag, Maart 23, 2005

The Birth of Tragedy

Om Friedrich Nietzsche te lees is soos om die kaarte van 'n Tarot pak om te draai: die "probleem" kaart, die "verlede" kaart, die "hede" kaart en die "toekoms" kaart. Wat sien jy met die omdraai: net die oersimbole - die Duiwel, die Koning, die Gehangde Man, Liefde, Krag, die Son, die Maan, die Priester, die Toring, die Wereld ens.

En wat beteken dit?

Dit beteken niks rasioneel nie, en tog kan die mensehart nie help om te klop in verwagting nie, soos vir die oomblik van openbaring. Die rede hoekom die hart klop is ons smagting vir bemagtiging en aanmoediging - vir iets (die "kaarte") wat 'n pad vooruit kristalliseer uit ons eie, deurmekaar, besluitelose gedagtes.

Dis soos Nietzsche is: geen argumente, geen poging om te oortuig, net 'man wat die wereld ruk en skud en onderstebo draai en klap - en in die proses (al was dit sonder intensie), derduisende mense laat lag en die aanmoediging gee om besluite te neem en dinge te doen.

"Die Geboorte van Tragedie" was sy heel eerste boek. Dit skets 'n wereld wat bestaan as 'n see van wilskragte wat trek en skeur in alle rigtings, sonder rede, sonder rigting, sonder samewerking. Die menslike toestand, die "unbearable lightness of being" kan net besweer word deur kuns - kuns is die enigste bestaansreg vir die wereld - en die diepste, universele kuns is tragedie: hartseer. Ons kan hartseer verstaan en ervaar sonder taal, in kinders, in oumense, in New York en die Kalahari, in dom en slim mense, mooies en lelikes, rykes en armes. Dis tragedie wat ons na mekaar laat kyk.

Nietzsche spekuleer heavily oor hoe tragedie ontstaan het - na sy mening eers in die skepping v die Griekse Gode Apollo en Dionysus, en daarna uit die drama van Aeschylus (sien "Agamemnon & Die Kransdraers") - en hoe dit uiteindelik weer "gesterf" het met die koms van Sokrates en wetenskap, wat hy sien as 'n crazy kultus wat die wereld oorgeneem het.

Die laaste deel van sy boek is 'n entoesiastiese plug vir Wagner se "Tristan en Isolde", waarin hy die hergeboorte van tragedie sien. Nietzsche en Wagner het uiteindelik bitterlik gestry oor W. se laaste opera "Parsifal", met sy Christelike tema van die Holy Grail - waarin Nietzsche die ergste moontlike cop-out gesien het.

Die boek bevat 'n "Attempt at Self-Criticism" wat twee dekades later geskryf en by die teks gevoeg is waarin Nietzsche sy eie boek uitmekaar skeur as jong romantiese snert. Wat hom duidelik pla is hierdie embarassing raving oor Wagner. "I introduced hope where all was hopeless".

Nou ja, go figure.

Dinsdag, Maart 22, 2005

Vanity Fair

Rheese Witherspoon as 'n Victoriaanse Scarlet O'Hara - van arm na ryk, wat met net haar looks en 'n wil van yster haar pad in society baan teen enige prys - vriende en familie inkluis. Die oumense sou sĂȘ DIT KLINK HOLRUG GERY!

Ja, daars niks nuuts nie - maar tog was dit vir my 'n verbasende selfversekerde fliek met 'n lekker ligte toon: 'n goeie storie, 'n beskye maar bevolkte wereld, 'n goeie vertelpas met gepaste klem op 'n paar werklik hartseer oomblikke.

Pragtige produksie van standaard materiaal - die gevoel van iemand wat 'n klomp geld geleen en (phew!) dit nie in die toilet af gespoel het nie.

Maandag, Maart 14, 2005

Million Dollar Baby

Clint Eastwood is 'n man wat die wereld (nie net Amerika nie) al gesien het. 'n Paar maal om die blok, sewentig jaar oud, nogsteeds sy eie mens.

Tussendeur het hy 'n horde movies gemaak - baie swakkes, goeies en 'n paar great movies: Unforgiven, Mystic River en High Plains Drifter.

Met hom is die geveg gewen of verloor voor die eerste toneel geskiet is. Alles in Clint se movies gaan oor die keuse van die materiaal (die feit dat hy net aanpak wat regtig vir hom lewendig, lekker en doenbaar is) en die keuse van die regte akteurs.

Sy regie is straightforward en heeltemal voorspelbaar: fokus op die storie wat vertel moet word, ignoreer die res, moet niks tricks probeer nie (te oud vir sulke snert), bly trou aan die visie waarmee jy begin het, en gee die akteurs die kans om te jol.

As 'n akteur is hyself uiters beperk - gelukkig vir hom dat gehore glimlag die oomblik wanneer sy gesig op doek verskyn.

Million Dollar Baby?

Weereens - 'n eenvoudige storie oor die prys-van-'n-droom, met die minimum fuss gedoen en gefokus op 'n paar belangrike emosionele oomblikke.

Dit toon geen besondere insig nie (anders as Mystic River), maar die fliek slaag om sy punt te maak en ek het dit baie geniet.

Hoop daar is nog 'n paar sulkes in hom.

Woensdag, Maart 09, 2005

The Turn of the Screw


Terwyl sy in die sonkamer sit en teedrink sien die huishoudster skielik hoe die dogtertjie wat sy oppas vries en na die hoek van die kamer staar. Daar staan 'n onbekende vrou wat die huishoudster nog nooit tevore gesien het nie. Wanneer die twee grootmense mekaar se oë vang verdwyn die vreemdeling vinnig by die deur uit. Later, wanneer sy die kind uitvra ontken die dogtertjie dat sy enige iets gesien het.

Henry James se boek "The Turn of the Screw" is DIE perfekte spookstorie.

Dit vertel van 'n ryk man wat 'n huishoudster aanstel om twee kinders op te pas wat na 'n motorongeluk deur die hof aan hom toegestaan is. Sy vertrek alleen na sy "country estate" - met die voorwaarde dat sy alles daar self sal hanteer en hom nooit sal lastig val nie.

Wanneer sy die seuntjie die eerste keer sien - die dag wat sy skool sluit - gee hy vir haar 'n brief. Later, wanneer sy dit oopmaak sien sy dat dit van sy skool is: om haar in kennis te stel dat hy geskors is, sonder enige verduideliking.

Hierdie raaisel sit haar aan die dink. Kort voor lank word sy oortuig daarvan dat - ten spyte van hul idilliese lewe - die twee kinders deur twee spoke getraumatiseer word ('n ou man en vrou - die vorige butler en huishoudster) en dat hulle hulp soek maar te bang is om iets te sĂȘ.

Sy maak dit haar roeping om "tot hulle deur te dring" en "hulle te red", sonder enige sukses - maar die effek is net om haar meer verbete te maak.

Van buite af lyk dit asof dit SY is wat besig is om die kinders te traumatiseer met iets wat net in HAAR kop is.

Henry James werk hierdie twee perspektiewe teen mekaar in 'n storie wat spannender en benouder word en eindig in 'n horribale, wrede klimaks.

"The Turn of the Screw" is great omdat dit gaan oor dit-wat-nie-gesĂȘ-mag-word-nie, en dan regkry om dit te wys sonder om dit te sĂȘ.

Dinsdag, Maart 08, 2005

Dwaalstories

In 1927 het Eugene Marais hierdie klein boekie gepubliseer. Dit bevat net vier baie kort stories, waaronder "Klein-Riet-Alleen-In-Die-Roerkuil", en 'n paar basiese illustrasies. Die oorspronklike uitgawe was duidelik op kinders gemik.

Dit wil voorkom asof hy die stories verbatum van Boesmanvertellers neergeskryf het. Die inhoud en styl daarvan is heeltemal anders as enige iets anders in Afrikaans:

"En toe hy kom, hoor hy die meide in die strooihuise skree: "Hot-'tgorra! Hot-'tgorra!" En die mans is so bang dat hul toonnaels kletter en die sweet drup van hul lyf in haelkorrels. Elkeen kan die vuur met een asem doodblaas."

"Dwaalstories" was 'n baie spesiale gebeurtenis vir Afrikaans. Die reputasie daarvan het gegroei omdat niemand ooit weer so iets kon "skryf" nie, ten spyte van baie pogings. Vandag staan dit alleen as die enigste rekord van 'n kunsvorm wat vir altyd verby is: die Boesmanvertellings in Afrikaans.

Die taal en die verbeelding van die Dwaalstories is ongeewenaar deur enige later skrywer.

Maar selfs meer skokkend, die laaste storie bevat "Die Dans van die Reën" - een van die HEEL BESTE gedigte in Afrikaans:

O, die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies,

En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy,
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof is groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore in die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies;
"Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Sondag, Maart 06, 2005

The Motorcycle Diaries

In die jare voor die legendariese kommunistiese avonturier Che Guevara vir Fidel Castro in Mexico ontmoet en 'n regering in Kuba omver gewerp het, het hy as jong student 'n lang reis deur Suid-Amerika per motorfiets gedoen. Hierdie is veronderstel om 'n dagboek van daardie reis te wees.

Ek dink "Diaries" sal iets doen vir Suid-Amerikaanse toerisme (dit lyk pragtig) en moontlik 'n nuwe geslag inspireer om die wereld te verken en te help - alles goeie dinge.

As 'n kunswerk is dit baie beperk, hoofsaaklik omdat alle drama, konflik en kontensie vooraf verwyder is. Al wat oorbly is die uitgebrande hout van 'n storie: twee pelle wat met een stem sing oor alles en ons entertain met hulle jeug, hulle wisecracks, en hulle onskuld.

As politieke ek-weet-nie-wat-nie is dit lagwekkend (Che se afskeidswoorde is: "Something happened that I need to think about. So much injustice...")

Laat mens besef hoe ver die rooi gevaar al uit ons bewussyn gesypel het, dat dit nou so moeilik is om te herroep.

Vrydag, Maart 04, 2005

The Last Temptation of Christ

Die Oscars is verby en Martin Scorsese het - teen alle verwagtings - weer verloor.

Ek het nog nie Clint se movie gesien nie - ek was nie mal oor Aviator nie - maar as die wereld fair was sou Scorsese jare terug al 'n Oscar gekry het vir "The Last Temptation of Christ". In die plek daarvan het hy 'n storm kritiek - godsdienstig sowel as artisties - gekry en die hele affere hang in die geheue as sy een crazy mislukking.

In werklikheid is dit is sy enigste fliek wat heeltemal sonder fetishes, afleidings en showboating is. 'n Baie onseker, droeë "praat fliek" wat vir een maal net konsentreer om 'n kosbare vrag te dra en veilig af te lewer.

Temptation was destyds verban in SA, ek weet nie of dit nou beskikbaar is nie. Ek weet uit my eie ervaring dat meeste mense 'n verwronge idee het van hierdie heavy-going maar pragtige fliek.

Dis vir die meeste 'n reg-uit-die-Bybel hervertelling van Jesus se lewe (so droog soos stof), tot en met die kruisiging. Ons sien ondermeer die Duiwel se drie versoekings in die woestyn: spring van die krans, verander klippe in brood, laat die stede jou aanbid.

Wanneer Jesus aan die kruis hang word sy sinne oorval met 'n massa geraas en gedreun (vir ons verwysend van die pyn wat hy voel). Skielik, uit die bloute, stop dit alles. Die mense is nog daar, maar die geraas (die pyn) is weg. Christus kyk af en sien 'n klein meisie staan aan die voet van sy kruis. Sy waai vir hom en sĂȘ "Kom af!"

Wanneer Jesus weier en sĂȘ dat dit sy lot is, antwoord sy: "Nee, ek is 'n Engel wat God gestuur het om jou te kom haal. God wou jou geloof toets, net soos hy die geloof van Job en Abraham wou toets. Sal God sy enigste seun doodmaak as hy Abraham gekeer het?".

En daarmee kom Christus van die kruis af en stap saam met die meisie deur die jubelende, onbewuste skare.

By sy huis wag sy vriende en Maria Magdalena, dis sy bruilof dag. Hulle trou en Jesus hervat sy lewe as 'n skrynwerker en 'n middelmatig suksesvolle prediker en gemeenskapsleier. Later word hy pa en uiteindelik Oupa. 'n Ou en gerespekeerde man.

(Obviously is die Bybel nou lankal by die venster uit)

Dan eendag, as ou man, kry hy 'n besoek van sy ou vriend Judas Iskariot (Harvey Keitel !). Judas is woedend omdat Christus nie sy lot vorbring het nie. "Ek moes jou verraai sodat jy jou lot kon volbring".

Jesus verduidelik dat die Engel van God - die klein meisie wat van daardie dag af elke dag by hom bly - hom kom haal het, dat dit alles God se toets van sy geloof was.

"Watter Engel van God?" vra Judas.

"Daar is sy". Jesus draai om na waar sy sit - en wanneer hy mooi na haar kyk sien hy vir die eerste keer: sy is die Duiwel.

En dan, met alles wat hy het, wens Christus homself terug in tyd, terug na sy kruis, terug na sy pyn en sy lot.

En wanneer hy weer daar hang, skreeu hy: "Dit is volbring!", en sterf.

Woensdag, Maart 02, 2005

Oresteia

Die Grieke het vir ons baie dinge nagelaat - een ding wat my elke keer opval is die groot ironie: hoedat ons leef deur die oomblik wat ons noodlot bepaal sonder om dit ooit raak te sien.

Byvoorbeeld.

Agamemnon en sy broer Menelaus bring die Grieke bymekaar om 'n oorlog teen die arme stad Troje te voer en Menelaus se vrou "Helena van Troje" terug te bring.

In daai jare was soldate vervoer in galleie wat geroei is met spane vir elke meter se vordering: 'n ontsettende moeilike en risky storie om een boot veilig te manoeuver vir enige lang afstand, nevermind 'n weermag van 'n duisend skepe.

Eintlik is daar maar net een manier hoe so iets ooit kan werk: met die hulp van 'n sterk en aanhoudende wind agter die seile.

Die twee broers kies dus die hawe van Aulis as die wegtrekpunt omdat dit (soos Kaapstad en PE) 'n reputasie vir wind het.

Behalwe, Agamemnon beledig die godin van die natuur (Artemis) en as straf bring sy 'n totale windstilte oor Aulis. Daar sit die Grieke met hul duisend skepe all-dressed-up-and-nowhere-to-go.

Uiteindelik kom woord dat Artemis 'n bloedoffer uit Agamemnon se familie soek voordat sy die wind sal verskaf, en na 'n wroeging besluit hy om toe te gee. Hy laat sy oudste dogter kom - op die oog af vir haar troue - maar die oomblik wanneer hy haar "weggee" trek hy 'n mes uit en sny haar keel af, as offer vir Artemis.

Daardie oomblik is die oomblik wat Agamemnon se lot bepaal.

Maar wat gebeur nou? Die wind steek op, die Grieke storm na hul bote en die groot reis begin. Die twaalf-jaar lange oorlog met Troje sleep verby en uiteindelik is Agamemnon triomfantlik. Troje word afgebrand, Paris (Helen se vryer) word vermoor, Helen kom saam met die Grieke terug.

Die Griekse nasie is gevorm, die wereld geskiedenis begin, die digters sing, maar dit is alles onbelangrik - die hele Trojaanse Oorlog is irrelevant.

Agamemnon het lankal vir Iphigenia (sy dogter) vergeet - derduisende onskuldige mense het immers gesterf - maar Clytemnestra, sy vrou, het hom dit nooit vergewe nie.

Elke dag van die twaalf jaar het sy gewag en op dieselfde dag van sy triomfantlike terugkeer steek sy hom dood (30 keer) nadat sy 'n "Royal Robe" vir hom aantrek wat in werklikheid 'n straightjacket is.

Die oudste dramaturg wat ons ken - Aeschylus - het 'n trilogie dramas hieroor geskryf.

Die eerste drama se naam is "Agamemnon" - dis die storie wat ek nou net vertel het.

Die tweede drama se naam is "Choephori". In Engels sĂȘ hulle "The Libation Bearers". 'n "Libation" is 'n drankie wat vir die Gode gemeng en dan as offer oor 'n graf of in 'n tempel gestrooi word. Die Afrikaanse woord daarvoor is "plengoffer", maar ek sterf voor ek dit gebruik.

Ek noem dit "Die Kransdraers".

"Agamemnon" en "Die Kransdraers" is my gunsteling twee dramas. (en Shakespeare se "Henry IV")

Die Kransdraers speel af rondom Agamemnon se graf en wys die motiewe van die verskillende mense wat offers bring.

Clytemnestra bring haar offers om die gees v Agamemnon te paai en die geskiedenis te begrawe.

Orestes (hulle verbanne seun) bring sy offers om sy pa se krag te kry vir wraak op sy ma.

Rondom daardie graf sien ons die hele wereld van wraak en haat en die sondes van die vaders wat oorgedra word op die kinders.

Die onbreekbare siklus: "The living wails to the dead", soos Clytemnestra sĂȘ, wat tot vandag toe aangaan.

Hoendervleis stuff.

En dan (net vir die rekord) Die derde drama is die "Eumenides" - "The Kindly Ones".

Ek haat dit. Vir my voel dit soos om 'n ballon te prik nadat jy dit vir vyf uur lank opgeblaas het.

Dit gaan oor die "Twelve Furies" wat Orestes jaag namens Clytemnestra se spook en uiteindelik tot 'n vergelyk kom met hom en sy cronies (Athene en Apollo) en dan verander in die "Kindly Ones"

Daars is nog so 'n ironie is in die storie v Jason en Medea, maar dis 'n ander dag se saak.